Sunday, July 16, 2006

Dalk ou nuus, maar nie vir my nie

Ek besef dis waarskynlik nie nuut vir enigeen wat my blog lees nie, maar ek het met 'n passie podcasts ontdek. Ek het geen TV nie, ek luister graag nuus op die radio of lees baie koerante, maar podcasts is net die beste ding ooit. Toe ek nog 'n klein skoolseuntjie was, het ek altyd saans wanneer al die ander mense in die huis slaap met my kortgolfradio gespeel en tussen al die statika deur allerhande wonderlike stasies opgevang. Vir my was dit amper asof ek besig was om iets stouts aan te vang, want ek het graag geluister na Radio Moskou, Radio Pyongyang, een of ander stasie uit Oos-Berlyn en so aan, alles eintlik erg verbode in daai jare (ek praat nou van diep in die apartheidsjare en 'Rooi Gevaar'-tyd). Dan het ek vir hulle geskryf met 'n verslaggie oor wat ek gehoor het, dan stuur hulle altyd vir jou 'n poskaart of 'n geskenkie, ek was baie trots op my briewe uit Moskou (so ene uit vier het aangekom, die res vermoed ek het die geheime polisie in Pretoria onderskep). In elk geval, podcasts is vir my die moderne weergawe daarvan, ek kan kies presies watter soort nuus of inligting ek soek, dit eenvoudig aflaai en daar gaat jy, jy kan luister wanneer en waar jy wil. Ek was altyd en sal altyd bly 'n groot fan van die BBC, dus het ek reeds ingeskryf op 'n klomp van hulle podcasts, wonderlike dokumentere programme wat mens nie eintlik hier by ons op die radio hoor of op die TV sien nie. Tensy jy natuurlik 'n dstv-intekenaar is, wat ek eens op 'n tyd was en toe kom ek agter alles word oor en oor en oor herhaal, jaar na jaar, toe los ek dit maar. Apple se itunes het klaar al die moeite gedoen en lang lyste saamgestel van sommige van die beste podcasts beskikbaar. (Ons wat in SA woon kan mos nie musiek aflaai van itunes nie, maar die podcasts kan ons wel aflaai, en dis gratis). Jy teken in op die wat jy wil luister en elke keer as jy jou ipod inplug dan laai itunes self al die jongste episodes af. Wonderlik! Die wereld gaan nooit meer dieselfde wees nie.

No comments: