Ek is in Springbok, Noord-Kaap, onderweg na Namibie, suidweste van Afrika. Dit is baie, baie warm, want dit is nou somer, en in die somer is dit baie, baie warm hier rond. Ons het in Springbok aandete genuttig by 'n plek met die naam 'El Dago' wat baie mooi gelyk het van die straat af. Neonliggies en so, hier in Namakwaland. Die spyskaart was vol eksotiese disse, soos 'n bloukaasslaai en Cajun Chicken. My skoonsuster het Cajun Chicken bestel, maar dit was ietwat flou, want miskien het hulle vergeet om die Cajun-speserye by te voeg. Ek het die vegetariese bord bestel, wat heel lekker was, hoewel hulle gese^ het dit bevat groenboontjies (groot gunsteling van my) en soetwortels. Dit het soetpampoen en gewone wortels bevat. Die kelnerin was nie heeltemal daar nie, sy het vergeet om die messe en vurke te bring, sy het ook vergeet om die plekmatjies te bring, asook die sout en peper, en die slaaisous, en die ys vir ons drankies. Sy het ook vergeet om die tafel af te dek. Die tafel was naderhand baie vol. Sy het darem heel aan die einde van die ete kom vra of alles reg is en toe een bord weggedra. Daarna het sy teruggekom en nog een bord weggedra. Die lee" wynglase, koeldrankblikkies en bierbottels het sy net daar gelos, hoewel ons dit na die kant van die tafel geskuif het om dit vir haar makliker te maak. Toe ek vra of die plek filterkoffie aanbied, het sy geantwoord (gefluister, eintlik) 'Ek weet nie.' Sy het toe geloop, en (heelwat) later teruggekom met die woorde: 'Ons het net gewone koffie.' Een van die ander kelnerinne het toe vir my verduidelik hulle het net Ciro-koffie in 'n blik. Ek was steeds onseker en het toe nie koffie bestel nie. Springbok is beslis 'n gewilde plek, want al die ander reisigers hier praat Duits. Miskien kom hulle van Namibie.
Dis vir my altyd wonderlik om in 'n plattelandse hotel in een van die warmste dele van die wereld te bly en dan prentjies van koue Switserse bergtonele teen die mure te sien. En die donker gange met interessante meubels dra by tot die plattelandsehotelgevoel.
Daar was vanaand 'n baie mooi maansopkoms in Springbok.
Hierdie is nie die hotel waar ek bly nie, maar dis vir my 'n mooi voorbeeld van Art Deco argitektuur in die Karoo. Mens sien dit so dikwels en waardeer dit nie. (Verwys na my artikel in Die Burger oor Art Deco.)
No comments:
Post a Comment