Thursday, January 11, 2007

Daai lied

Ek sien Maksideem verwys ook hierna. Die 'berugte' De La Rey-lied. In Namibie (te wete Luderitz) is die lied minstens twee keer per aand in die twee plekke waar ek saans uitgehang het, gespeel. Die een plek het ook byvoorbeeld 'Troepie Doepie' (Kom huis toe . . . ) gespeel. En die meeste musiek in albei plekke was Afrikaans, minnerig wat ek in 'n kroeg was waar die musiek Afrikaans is. Nou, die De La Rey-lied puzzle my, dis 'n ongelooflike catchy lied, maar is dit rassisties of nie? Leopold Scholtz het daaroor geskryf en is nie van mening dat dit rassisties is nie. Maar ek het op die internet gesoek vir die woorde, wat ek hieronder plaas, en die enigste plek waar ek dit opgespoor het, was by www.stormfront.org, wie se logo is 'White Pride, World Wide' Daar is selfs 'n Engelse vertaling van die lied op hul webwerf. Die Namibiers met wie ek gesels het, is van mening dat die lied nie rassisties is nie, en dat Namibie verder gevorder het as SA deurdat hulle nie bang is om die lied te speel in die openbaar nie (in SA is dit op die radio verbied as ek dit reg het). Ek weet nie watter kant om te glo nie, daar is baie plekke in Namibie waar 'n mens voel of niks eintlik verander het nie en mens kry dalk die gevoel hulle speel die lied op uitdagende wyse. Ek persoonlik hou amper daarvan (soos Koos Kombuis, mooi warm gevoel in die hart). Miskien het die regses dit gekaap, maar eintlik is daar niks mee fout nie. Verwys die 'kakies' wel na die Engelse, of dalk is dit oop vir regse interpretasie? Dit rym byvoorbeeld met . . .
Hier is die woorde:
De La Rey
Op 'n berg in die nag
lê ons in die donker en wag
in die modder en bloed lê ek koud,
streepsak en reën kleef teen my
en my huis en my plaas tot kole verbrand
sodat hulle ons kan vang,
maar daai vlamme en vuur brand nou diep, diep binne my.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
Oor die Kakies wat lag,
'n handjie van ons teen 'n hele groot mag
en die kranse lê hier teen ons rug,
hulle dink dis verby.
Maar die hart van 'n Boer lê dieper en wyer, hulle gaan dit nog sien.
Op 'n perd kom hy aan, die Leeu van die Wes Transvaal.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
Want my vrou en my kind lê in 'n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor 'n nasie wat weer op sal staan.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
http://www.youtube.com/watch?v=429AUoAWQdY

3 comments:

Pienk Zuit said...

Ek het nogal gehou van die liedjie toe ek dit eers gehoor het, dit het defnitief 'n catchy tune. Dis jammer die regses het dit as hulle "nuwe volkslied" gevat. Nou weet ek nie rerig meer hoe om daaroor te voel nie.

Hoe voel jy oor die vryheidsmuur? Moe die trope wat op die grens gesterf het se name ook daarop kom, of net die "Terries" van weleer?

Ek wens ons kan in S.A. by die punt kom waar ons almal mekaar se geskiedenis kan aanvaar as ons eie. Ons moet besef dat nie een van die groepe in SA tot op hierdie punt kon gekom het sonder die ander groepe se geskiedenis nie. Dit beteken die Zulus moet Bloedrivier aanvaar as deel van hulle geskiedenis, en Afrikaners moet die vryheidstryd as deel van ons sin aanvaar. Om dit te probeer ontken of wegpraat is vir my bitter verkeerd.

Mense moet hou te veel vas aan wie gewen het en wie verloor het. In die geskiedenis is daar nie wenners en verloorders nie, almal het op die ou end die stof gebyt.

rondloper said...

Ek stem 100% saam met jou. Ek dink dis nodig om die geskiedenis te erken, mense wat gesterf het aan albei kante, ja. Maar dit raak moeilik as jy begin kom by simbole, of hoe? Die ou vlag? Die ou volkslied? Ook deel van die geskiedenis, maar wat doen mens daarmee. En standbeelde is ook vir my 'n moeilike een. Ek kan sonder skroom se^ ek dink byvoorbeeld die soldate van die grensoorlog se name hoort op die vryheidsmuur, dit was gewone mense soos ek en jy wat gedoen het wat hulle moes, selfs teen hul wil soms. Maar Verwoerd-standbeelde? Dis eintlik 'n moeilikerige vraag . . .

Anonymous said...

So gepraat van Suid-Afrikaanse musiek...
hier's daai kontroversie"le Noot-vir-Noot blog:
http://johanstemmetdag.blogspot.com/