Wednesday, January 24, 2007

Die donker plek

Ek het nou die aand Blood Diamond gekyk en dit was vir my 'n vreemderige ondervinding. Dit gaan oor die burgeroorlog in Sierra Leone en die smokkel van diamante. Dis in SA gemaak (daar is tonele waar hulle teen die berge uitklouter in Sierra Leone, maar jy weet dis eintlik Bolandse fynbos daai!) Hulle praat ook heelwat Afrikaans sonder onderskrifte (die SA huursoldate in die fliek), en selfs die tawwe Leonardo Dicaprio gebruik 'n Afrikaanse woord of twee (en het 'n verstommend goeie SA aksent). Die einste Leo het my nogal verras, ek het gedink hy kan net die rol van sagte, sensitiewe mans speel, maar hy kan duidelik ook 'n tawwe Rhodesiese huursoldaat wees. Die fliek het my laat dink oor die plek waar jy tuis voel, gemaklik voel, want in die fliek is Leo se droom om genoeg geld te maak met die diamante dat hy kan padgee van hierdie chaotiese kontinent af. Maar . . . Ek sal nie die einde vertel nie en kan dus nie heeltemal die volgende stelling verduidelik sonder om iets weg te gee nie. Tog, al was die fliek vol chaos, geweld, bloed, korrupsie, het ek snaaks genoeg daar uitgeloop en gedink, 'Ja, Afrika is 'n goeie plek om te bly, dis maar waar ek vandaan kom'. Hoe bisar is dit?

No comments: