Monday, January 08, 2007

Luderitz

Luderitz is seker die eienaardigste plekkie op hierdie aardbol. Ek was laasjaar ook hier en nou weer. Ons het dit hierdie slag op die reis ingesluit omdat ek daarop aangedring het, nie omdat dit so onmisbaar is nie, maar omdat dit so koel is. Die binneland van Namibie is 'n sauna op die oomblik en hier is dit minstens koel (al waai die wind erger as in die Kaap, elke dag, en die woestynsand vorm so 'n stoflagie op alles). Die plek is 125 km van die naaste ander gehuggie (Aus), en, wel, hier is eintlik niks. Mooi, ou Duitse argitektuur, stof, sand, wind en allerhande interessante karakters. Soos diamantduikers wat ons in die kroeg raakgekuier het. En vreemde Duitse toeriste met safariklere. En Portugese vlugtelinge uit Angola wat hier beland het. Dit voel asof jy letterlik aan die einde van die wereld aangekom het, dis onherbergsaam en verlate, en vreeslik nostalgies omdat die plek eintlik pragtig behoort te wees, maar die wind en sand het alles verinneweer. Hier kan jy kom wegkruip as jy wil. Die koerante daag ook eers 'n dag later op.

Een van die mooi huise en die Lutherse kerk (op rots gebou.)


Hierdie vriendelike mense was die Duitse inwoners van Luderitz in die 1930's. Let op die vlag en in die middel is 'n foto van 'n Duitse soldaat (Nazi?)

Kolmanskop, die bekende spookdorp hier naby. Die toer was in Duits (95% van die mense) en Engels (vyf mense). Jy kan net op 'n toer gaan, want dis deel van die spergebied en hulle is bang jy tel dalk diamante in die woestyn op. Die spyskaarte in die hotels en koffiewinkels op Luderitz is in Duits. Ek dink nie veel het verander sedert die dae van Duitswes nie.

3 comments:

Anonymous said...

Bly om te sien jy lewe nog. Jou family wonder al.
Ek is in elk geval baie jaloer, dit lyk moerse lekker

Lammervanger said...

Hierdie foto's laat dink my aan daai ou TV-program The Mantis Project...

rondloper said...

Ek wonder of mens die Mantis Project nog iewers kan koop. Dit was vir my baie spooky. Soos baie dele van Namibie, die plek het darem vir my 'n ongelooflike atmosfeer, al die verlatenheid.