Friday, December 30, 2005

Voorsmakie (1)

Hierdie foto's het ek vanjaar in Oktober geneem toe ek vir 'n vinnige voorsmaak deur Singapoer, Maleisie en Thailand gereis het. Nou plaas ek dit solank om julle 'n aanduiding te gee van wat alles nog kom op my blog - ek sal darem af en toe mooi natuurtonele, stede en historiese plekke wys vir mense wat daarin belangstel (soos ekself), en enigiets anders wat interessant is.


By 'n backpackers-restaurant in Ayutthaya, Thailand. Die vrou (ek kan nie meer haar naam onthou nie) kom van Montreal en is 'n onderwyseres. Sy vat elke jaar so twee maande vakansie, dan gaan reis sy stoksielalleen iewers. Sy is gelukkig getroud en haar man hou ook elke jaar op sy eie vakansie. Die ander ou (ek kan nie meer sy naam onthou nie) is die restaurantbestuurder. Hy was eers die eienaar (soortvan - sy girlfriend het die plek besit), maar toe los sy hom en hy sit sonder haar en sonder werk. Maar toe kom hulle agter die restaurant werk nie sonder hom nie, want hy kan Engels praat en die gaste is meestal buitelanders. Die restaurant het hom toe teruggevat, maar sy girlfriend wou hom nie terugvat nie.


Gabriel, 'n ou vriend van my van Kuala Lumpur, saam met my by 'n Indiese tempel aan die buitewyke van KL. Die tempel is binne-in 'n grot en dis 'n lang klim voordat jy daar uitkom. Hulle bou ook nou 'n baie groot beeld voor die tempel, maar hy mag niks groter nie omdat geen godsdienstige struktuur groter as die hoogste moskee in Maleisie mag wees nie. Tog is die beeld baie hoog, ek het nog nooit so iets gesien nie.


Kelvin, my maatjie in Singapoer. Hy is 'mixed race', hy is half-Japannees en half-Duits. Ek het in Singapoer uitgevind ek is ook 'mixed race', ek is glo half-Chinees. Dit was 'n groot aanknopingspunt vir gesprekke, dit het gewoonlik so verloop: 'Whe yu fom? Yu mixed lace?' Blykbaar is dit my oe wat die mense laat dink ek is half-Chinees. Vir my werk dit baie goed, want dit maak my glo spesiaal en anders.


Die monnikke in Thailand kry hul eie staanplek op die rivierboot in Bangkok. Hulle mag nie gaan sit waar jy sit nie, en jy mag nie gaan staan waar hulle staan nie.


By 'n winkelsentrum in Ayutthaya in Thailand is daar aparte parkeerplek vir die motorfietse en bromponies, ek reken dis omdat daar so baie van hulle is.

No comments: