Saturday, December 24, 2005

In die bos


Hierdie vrou het 'n klomp straatkinders na Tstitsikamma gevat - seker op een of ander opvoedkundige toer. Toe ek terugloop op die baie wankelrige hangbrug, het ek verby hulle geloop, en minstens vier van die kinders (drie meisies en een seun) het oopbek gehuil van vrees, maar hulle het aanhou loop, want daar was nerens anders om te gaan nie.


Dis nou sommer ek wat op dieselfde wankelrige brug loop, met my hoogtevrees iewers in 'n tassie weggepak.


Wilde sampioene wat oral in die bos op ou, gevolle boomstompe groei.


Hierdie boom is 800 jaar oud. Hy groei al vir so lank, op presies dieselfde plek. Hy was al daar toe die eerste klipweergawe van die London Bridge in die 1200's (wat nie meer bestaan nie) gebou is. Hy was 'n klein boompie toe die vierde kruistog begin het. Hy staan nou nog in die Oos-Kaap.

Vandag was ek saam met die familie na Tsitsikamma, 'n plek wat ek al eenkeer voorheen besoek het - en ek staan verstom oor die wonder van die natuur. Dit is een van die mooiste plekke wat ek nog ooit gesien het, daar is net iets primeval aan die bos, die stilte, die voeltjies (wat ek graag sou wou benoem, maar ek is nie 'n voelkenner nie), die mos wat al die boomstompe vol groei, die varings groter as wat jy nog gesien het. Dit laat jou stilstaan en vergeet van enige ander kwellinge wat eintlik maar alles werelds is en tog verbygaan. Toe gaan ons na die nasionale park toe, wat apart is van die woud wat jy op die N2 sien, en dis net nog meer en nog beter as wat jy reeds gesien het. Ek wil dit aanbeveel as een van die beste plekke wat ek nog gesien het as jy stilte en tyd vir dink soek.

1 comment:

Anonymous said...

Hallo!
Ons het gou-gou na jou website toe gegaan vanoggend.
Ek print al die bladsye en sal dit later lees.
Geniet die Great Barrier eiland!!!
Groete,
Marné