Sunday, May 20, 2007

Dorpies


Nog so 'n laaste paar foto's van my trippie. So tipies van Hong Kong. Woonstelle wat reik na die wolke. Die meeste woonstelgeboue is inderdaad veel ouer, maar hierdie is op die eiland Lamma, naby die lughawe, waar 'n heeltemal nuwe dorp ontwikkel word. Want daar is maar net nie meer veel plek oor nie . . . Maar ek moet se^, na Seoel voel Hongkong amper 'n bietjie soos 'n klein dorpie . . . En Kaapstad dus soos 'n baie, baie klein dorpie . . .


Spitstyd in Hongkong is besig . . . In Causeway Bay se moltreinstasie op pad boontoe.


En buite op straat, dis op Hongkong-eiland.


So tegnolgies gevorderd as wat Hongkong is, met paaie en moltreine wat onderdeur die see loop en elke deeltjie van die gebied met mekaar verbind, bou hulle steeds met bamboes, want dis net soveel sterker as ander soort stellasies en blykbaar baie makliker en vinniger om op te slaan.


Terwyl ek met 'n kabelkar na die Groot Boeddha-beeld gery het, het ek hierdie mense doer onder in die see gesien. Ek vermoed hulle haal mossels of ander soorte skulpdiere uit.


En dis die Groot Boeddha. Daar is nou 'n nuwe 'tradisionele' dorpie aan die voet daarvan, maar dis eintlik net 'n tourist trap. Die beeld is wel indrukwekkend. Maar dis nie 'n vreeslike serene uitstappie nie.


By die tempel is daar darem 'n wierook-reuk in die lug en bietjie stilte, weg van die massas toeriste. En daar is 'n mooi blik op die beeld van die tempel se trappies af.


Met die terugry met die kabelkar, is daar pragtige uitsigte, maar mens kan ook duidelik die besoedeling in die lug sien. Ek is regtig baie lief vir Hongkong, ek dink dis een van die mees opwindende stede, maar die besoedeling raak soms erg. Dis vir my altyd vreemd dat dit lyk of niemand dit raaksien nie, asof mense nou maar gewoond is aan die vuil lug. Ek kan nie anders as om elke nou en dan te sien die lug is maar dowwerig nie . . .

No comments: