Saturday, May 12, 2007

Donker eiland


Langkawi is 'n eiland met 'n donker geskiedenis en selfs vandag is die sand op een van die strande onheilspellend swart, soos Seng hier wys . . .


Want hierdie graf, die graf van 'n jong dame wat sewe generasies gelede geleef en tragiese gesterf het, hou die sleutel. Sy is deur die koning van die tyd van owerspel beskuldig en ter dood veroordeel, deur op 'n brandstapel te sterf nadat iemand 'n dolk in haar hart gedruk het. Sy het in haar sterwensoomblik die eiland vervloek dat dit sewe generasie lank baie sleg daar sal gaan. Die vloek het so 'n paar dekades gelede verval, en sedertdien floreer Langkawi. Sy word deur die Maleisiers as 'n heilige gesien omdat sy vals beskuldig is en dus 'n martelaarsdood gesterf het. Nou is daar 'n gendenktuin opgerig waar haar graf is.


Daar is 'n hok met koerkoer-duifies in die gedenktuin.


Mens kan met 'n kabelkar teen die hoogste berg op Langkawi opry. Dis 'n baie lang kabelkar en hy beweeg nogal vinnig. Onder is net oerwoud en die blou, blou see. En bo, is jy in die wolke.


Met die terugkomslag, as mens deur die wolke breek, sien jy die see en dele van die eiland. Dis baie, baie mooier as Phuket, waar ek verlede jaar was, en ook baie meer ongerep, die ontwikkeling is van so 'n aard dat die eiland nog redelik ongeskend voel. Goeie plek vir Suid-Afrikaners om vakansie te hou, want dis ook baie goedkoop.

No comments: