Sunday, December 24, 2006

In die woud



Gister het ek my vriend Hugo gaan wys hoe lyk my grond daar by Teslaarsdal aangesien hy byna die hele jaar nie die rustigheid van die platteland ervaar het nie. Dis darem maar ongelooflik om daar op die koppie te gaan sit en afkyk oor die dorpie, met die absolute rustigheid om ons. Dit was 'n heerlik ontspannende trippie, al was die paaie 'n bietjie besig tot by Caledon. 'n Verstommende ding is besig om op my grond te gebeur, 'n natuurlike dennewoud is besig om gestalte te kry. Die denneboom hier regs was toe ek die grond gekoop het (so 'n jaar gelede?) nie eens tot by my knie nie, en kyk nou (hy staan nog 'n bietjie laer as wat ek staan op die foto). En daar is nou al drie van hulle, hierdie grootte, en nog 'n paar kleineres wat begin groei. Ek weet dennebome is nie eintlik goed vir die grond nie (so hoor ek), maar die klompie wat nou vanself begin groei, is nogal min of meer besig om 'n natuurlike heining te vorm rondom die gedeelte waar ek later wil huis bou. Ek dink ek gaan dit vir eers los, want dan is daar bome as ek eendag daar wil bly. Ek persoonlik hou van die reuk van dennebome. Moenie kyk vir my toegetrekte ogies op die boomfoto nie, die foto gaan oor die boom.

No comments: