Saturday, October 07, 2006

Vol lewe


Ek het pas hierdie boek klaar gelees. Dit het my 'n tydjie gevat, ek het dit inderdaad in Delhi gekoop kort voordat ek Sri Lanka toe is, wat nou al 'n hele paar maande gelede is, maar ek het nog nie daarby uitgekom nie. Ek het dit juis gekoop omdat die skrywer van Sri Lanka is (hy woon nou in Kanada) en ek graag iets oor die land wou lees voordat ek daar kom. Maar eerder laat as nooit, ek het nou terug by die huis tyd gehad hiervoor en wat 'n wonderlike boek. Ek het dit basies in een dag klaar gelees, dis een van daai mooi stories wat jy nie kan neersit nie. Ek lees graag enigiets wat my iets oor myself leer, en as dit dan nog in 'n mooi storie vertel word, soveel beter. En sy verduidelikings van die landskap en stadsomgewing in Sri Lanka is wonderlik, ek kan allerhande dinge voor my geestesoog oproep soos ek die boek lees. Dis 'n 'coming of age'-storie, ek wil nie veel verklap nie indien iemand dalk dit wil lees, maar soos so baie van die boeke waarvan ek hou, gaan dit oor die hoofkarakter, Amrith, se soeke na sy plekkie in die son, en wat hy uiteindelik kry. Miskien was dit nou goed vir my om dit te lees omdat ek juis ietwat tussen die boom en die bas sit. Ek het minstens weer maklik genoeg werk gekry sedert ek terug is (volgende week gaan ek inderwaarheid vir twee weke vas op kantoor sit, sal 'n nuwe ondervinding wees!), en my voorlopige plan is om tot vroeg volgende jaar hier in SA rond te hang, ek gaan einde Desember twee weke Namibie toe en ek wil miskien volgende jaar vroeg Rwanda en Tanzanie toe gaan, en dan in die tweede kwartaal gaan ek weer Asie" toe - ek het nog nie alles gedoen en gesien daar wat ek wil nie. En miskien is ek volgende keer gelukkiger met die gastehuis-soektog daar, of dalk 'n ander geleentheid. In elk geval, dis lekker om terug te wees in Stellenbosch, die dae is mooi en die kaal bome het in net die maand wat ek in Kambodja en Vietnam was blare gekry - die lente is vol lewe en ek ook.

4 comments:

Kaukus31 said...

Driesie, wat is jou (en prof.) se jongste e-pos-adresse? Ek skryf vir julle maar dit kom terug?
Werner wbvt@hotmail.com

Anonymous said...

soek 'n gastehuis nader aan die huis
wat het van die malawi-idee geword

Anonymous said...

Driesie, ek het tien dae op Phuket gebly in 2003 - absolute utopia. Nou hoor ek hier in Pretoria die hotel, Hotel Burasari, waar ek gebly het, het weggespoel in die tsunami. Maar ja, 24 uur is te min op daardie eiland, om van Bangkok en die ander eilande nie eens te praat nie! Bliss!! www.kaukus31.blogspot.com

Anonymous said...

Hey Andre,

just wanted to say hi and see how u going? i see ur all over the place...sorry can't understand the language on ur blog but yeah...hehehehe

hope ur well...and give me a buzz wen ur free sometime.

ciao
Roman von Samoa!