Monday, October 23, 2006

Een aand in Victoria-Wes

In die ewigdurende soeke na 'n sinvolle nuwe rigting in my lewe (die les, moenie jou werk bedank, jou gastehuis verkoop en dan lank gaan reis as jy nog nie heeltemal besluit het wat jy daarna wil doen nie), wat my nou al geneem het na Kambodja en terug na SA, het ek die naweek besluit om die Karoo in te ry op soek na 'n huis. 'n Goedkoop huis, wat ek bloot wil koop as belegging en moontlik later sal gebruik as blyplek of dalk as gastehuis. Ek het Victoria-Wes (te duur vir my - die Karoo se pryse het skerp gestyg, minder as R300 000 kry jy nie sommer nie, wat baie is vir die Karoo), Britstown en Strydenburg aangedoen. Die Goue Tweehonderdmyl, sal ek dit graag noem. Victoria-Wes is tog te pragtig en fraai, maar reeds ontdek en oorvol. (Ek slaap vanaand in Victoria-Wes in 'n gastehuis wat homself as 'luuks' adverteer, ingerig is soos Biggie Best, en my kamer stink na riool). Britstown is mooi, en toe Strydenburg, godverlate, op die N12 onderweg na Hopetown en dan Kimberley.
Ek dink ek hou van Strydenburg. Baie klein plekkie, daar is al 'n paar huise wat opgekoop is deur 'inkommers' wat die huise al reggemaak het, lyk baie mooi. Maar die hoofstraat is 'n hartseerstorie. 'n Hotel, 'n gastehuis, 'n supermark en (vreemd genoeg) 'n Chinese winkel. En 'n paar geboue wat net leeg staan. O, en 'n meubelmaker.
Daar kan ek 'n baie groot huis in 'n baie goeie toestand, ou Karoo-huis, koop vir min geld. Ek dink nou regtig daaraan, vanaand is die aand wat ek daaroor slaap, en more sal ek besluit. Want ek het met die hele Kambodja-episode besef ek wil wraggies nog baie reis, maar myself nie vasmaak op 'n plek waar ek baie geld gaan spandeer en niks daarvan sien nie. Dan eerder die geld wat ek daar wou gebruik, op 'n huis hier in SA gebruik (hoe's daai vir Proudly South African) en dan weer gaan reis, met die wete dat ek my grond by Teslaarsdal en my huis in die Karoo het. Iets om na terug te keer. Dan kan ek mos weer gaan reis en werk vir peanuts as dit daarop neerkom.
Wat vir my lekker is van Strydenburg, dis diep die Karoo in, die stilte en die oopte wat ek soek, maar dis naby 'n groterige stad, Kimberley (so 200 km), dus nie te ver van die beskawing nie. Veel nader as Sutherland aan groot plekke. En dis op die N12, dus minstens in vakansietyd is daar baie vakansiegangers onderweg tussen die Kaap en Johannesburg wat die N12 eerder as die N1 gebruik.
Anyway, soos ek toe nou al dieper die Karoo inry, toe tref dit my dat daar 'n interessante patroon is. Toe ek wegbreek van die korporatiewe wereld, het ek Sutherland toe gegaan. Toe gaan soek ek iets in Sihanoukville. Toe gaan woon ek in Stellenbosch. Nou gaan soek ek iets in Strydenburg. Toeval? En verder, sover ek kan onthou het ek al baie dikwels in huise of woonstelle met die nommer 13 of 27 gewoon. Roodepoort was 13, Blouberg was 13, my woonstel in Woodstock was 13, my huis in Sutherland was 27, my eerste huis in Parklands was 27, Stellenbosch is 27 . . . Waar's die numeroloe" onder my lesers. Verklaar dit vir my toe. Ek weet nie wat die huis in Strydenburg se nommer is nie.

2 comments:

Anonymous said...

ek wil nog eendag vir n jaar in die Karoo gaan sit op n regtig verlate plek. Net sit en leef sonder om te dink aan wat ek in die toekoms gaan doen.Sutherland staan my aan maar dan was ek amper 14 jaar gelede laas op Sutherland.

Hoekom koop jy nie weer op Sutherland nie?

Sterkte met die besluite
Klagat

Anonymous said...

O is dit waar jy was.