Monday, February 19, 2007

Maputo 101

'n Paar mense het gevra oor Maputo, kostes, hoe kom jy daar en so aan.
Daar is deesdae direkte vlugte van die Kaap na Maputo, met SA Express, dit neem 2 uur en 20 minute. Die vlugte is Maandae, Woensdae en Vrydae in albei rigtings. Dit kos nogal baie van die Kaap af, so R4000, met belastings ingesluit. Ek het met Voyager-myle gevlieg, want mens gebruik byna presies dieselfde hoeveelheid Voyager-myle vir 'n vlug binnelands in SA (18000) of na al die buurlande (19200 as jy op die internet bespreek). Dit sluit vlugte in na Namibie, Zimbabwe, Malawi, Zambie en oo Beira heel in die noorde van Mosambiek. 'n Winskopie, as jy dink dis basies dieselfde prys as vir 'n binnelandse vlug.
As mens dit (sonder Voyager) goedkoper wil doen, sal ek voorstel jy vlieg van die Kaap na Johannesburg met Mango (R500) en vat 'n bus (Greyhound, Interkaap en die Mosambiekse diens Panthera Azul, almal luuks en net so ses uur lank).
Verblyf daar wissel erg, die meeste hotelle is relatief duur, of jy kan in baie scaly plekke bly vir goedkoop. Ek het in die Pestana Rovuma-hotel gebly, so R600 vir die kamer vir die aand ( vir twee) met ontbyt. Lekker groot kamer, swembad op die tweede verdieping met mooi uitsig oor die dorp, reuse-ontbyt, langs die katedraal in die middestad.
Dis dalk beter om een van die hotelle in die omgewing van die Polana te kies, want dis bietjie meer upmarket omgewing, daar is baie restaurante, dis naby die Marginal (die kuspad noord van Maputo, vol restaurante en kuierplekke). Daar is 'n hotel genaamd Hotel Terminus, billik geprys.
Die beste is as mens van die Kaap wil reis om eerder 'n pakket te koop, hulle kos so R4000 en sluit dan die vliegkaartjie en verblyf van drie nagte in, gewoonlik in die Polana of die Holiday Inn, wat die enigste hotel reg langs die see is.
Kos is Portugees-beinvloed, baie piri-piri-geregte, lekker baie vis, garnale, skulpvis, ook hoender, daar is baie koffiewinkels oral met lekker gebak en die heerlikste koffie op die vasteland van Afrika as jy my vra. Pryse is maar vergelykbaar met SA, soms bietjie meer of bietjie minder. Daar is baie informele plekkies, sommer stalletjies langs die pad, wat natuurlik goedkoper is. Bier is oral te koop, letterlik op straat, vanaf so R5 vir 'n 'man-size' blikkie op straat tot heelwat meer in restaurante of nagklubs.
Die lekkerste uitgaanplek na my mening is 'n plek met die naam 'Coconuts' op die Marginal. Daar is 'n swembad onder die palmbome, veerpyltjies, restaurante, en saans is daar twee dansplekke, een meer 'Eighties' en ouer en een meer Latyns en jonger. Laasgenoemde is baie lewendig en baie interessant, die een kant van die gebou is oop, daar is geen muur nie, net creepers en palmbome, dit voel of Tarzan enige oomblik daar gaan ingeswaai kom.. Baie prettige plek en al die mooi mense van Maputo hang daar uit, die naglewe begin baie laat, eers hier teen halfeen die oggend, en raak eers later as dit besig. Om oor die weg te kom is taxi's heel voldoende, mens moet net reel dat 'n taxi jou oplaai as jy iewers gaan waar dit lyk of daar nie taxi's rondstaan wat jou kan terugvat nie. Die middestad is klein, mens kan bedags basies oral loop, maar dis baie, baie warm en bedompig, selfs meer as Durban dink ek. Dis wel heel veilig, hoewel daar korrupte polisiemanne is wat mens soms voorkeer en jou 'dokumente' wil sien, hulle sal enigiets doen om iets fout te probeer vind en dan omkoopgeld te vra. Mens moet altyd jou paspoort by jou dra, en dan is jy orraait, al probeer hulle wat.


Elke Marxis in die wereld het 'n straatnaam in Maputo gekry. Mao Tsetoeng, Ho Chi Minh, Robert Mugabe, die hele lot is daar.


Die teelwerk teen die geboue kan, al is dit dikwels nogal onversorg, baie mooi wees.


Hier staan 'n baie klein rondloper langs 'n baie groot man in die ou Portugese fort.


O, die kos, heerlik! Hier is 'clams' in 'n piri-piri-sous, garnale in 'n knoffelsous, en stukkies roosterbrood, en 'n lekker 2M-bier. In hierdie plek het ons ook garnaal-samoosas geƫet, en ek het toe 'n seekos-sosatie gehad en Hugo 'n Prego-steak. Die vorige aand was daar kreefbredie op die spyskaart, by 'n plek met 'n uitsig oor die see.


Ek en Hugo in Restaurante Peri Peri. Dis die plek met die lekker kos op die boonste foto.

3 comments:

Anonymous said...

Ek het juis gewonder wat om met ons Voyager myle te doen wat binnekort verval!

Moet mens op SA Express se website bespreek? Want op SAA se website wil hulle my die heeltyd oor Jo'burg voeter. EK sien nie die direkte vlug nie.

rondloper said...

Ek het sommer gou self gesoek op SAA se website, jy kan beslis direk op die SAA-site self bespreek, hy gee vir jou die direkte opsies, onthou net die direkte vlugte is net Vrydae, Maande en ek dink ook Woensdae. Ek het nou sommer gou geloer vir die naweek van 9 Maart, dit kos R2800 heen en weer, nie te sleg nie. As jy met Voyager online bespreek, moet jy net seker maak jy kry die 'Saver-'tarief, anders gaan jy 35000 myle spandeer, genoeg vir 'n kaartjie Mauritius of Dakar toe! Die 'Saver'-tarief Maputo toe is 19200 myle, maar as jy bespreek gee hy vir jou die opsies, as jy ingeteken het met jou Voyager-nommer. Wanneer wil julle gaan?

Anonymous said...

Ons het nie 'n spesifieke plan wanneer nie. Enige tyd wat ons kan plek kry met Voyager. Ek sal bietjie op die Voyager website kyk, dankie vir die tips.