Monday, February 19, 2007

Eiffel in die suide


Sekere lesers van Rondloper het die mening uitgespreek dat my (gereelde) foto's van geboue op plekke wat ek besoek hulle verveel. Wel, ek het nuus vir hulle, dit verveel my nie, ek hou van geboue, en hier is 'n paar mooi geboue wat ek in Maputo gesien het. Hierdie is die Ysterhuis (Casa do Ferro), gebou deur die einste heer Eiffel wat verantwoordelik was vir die toring wat sy naam dra in Parys, Frankryk. Hy het twee geboue in Maputo gebou. Die Ysterhuis sou die Portugese goewerneurswoning wees, maar natuurlik was dit ietwat onleefbaar in die tropiese hitte voor die dae van lugreeling en die goewerneur het omtrent 'n week in hierdie huis uitgehou.


Dit is deel van die stasiegebou, al lyk dit soos 'n banketsaal, ook gebou deur mnr. Eiffel. Daar's is nog net 'n paar treine wat elke dag hier aankom.


So lyk die stasiegebou van buite. Hier is 'n groot verkeersirkel voor die stasie met 'n vryheidstandbeeld op die sirkel en 'n paar busse, vragmotors, karre en voetgangers wat almal hul vryheid op die pad geniet.


Ek weet nie watse gebou hierdie is nie, maar Maputo is oral vol sulke klein verrassings. Die sypaadjies het mooi patrone op, daar is huise met Maria-figuurtjies by die voordeur, of in die ou koloniale kern, waar hierdie gebou is, is daar teelwerk soos hierdie, of ander geboue met gekleurede dakteels. Dis nou alles te midde van die effe vervalle sypaadjies en paaie vol slaggate, ek meen die meeste mense fokus so op die pad, om nie in 'n donga te val nie, dat hulle van hierdie klein detailtjies op die geboue dalk mis.

1 comment:

Anonymous said...

Die stasiegebou lyk baie skoner as toe ek in 1998 daar aangekom het.