Sunday, March 18, 2007

So ver

My huis in die Karoo is om een of ander snaakse rede steeds nie oorgedra nie, ek weet dinge vat langer in die platteland, maar hierdie slag vat dit besonder lank. Dis in die aktekantoor op die oomblik en sal seker, hopelik teen volgende week deur wees. Maar ek het gister anyway deurgery soontoe om te gaan kyk, want ek verlang na die Karoo. Daar is baie dinge wat ek nie onthou van die huis nie, soos die mure in die sitkamer het hout op (amper soos houtvloere, maar teen die mure?) Bietjie eienaardig, weet nog nie wat ek daarmee gaan doen nie. En dan is daar 'n courtyard aan die een kant van die huis met 'n braai wat ek nie eens laas raaksgesien het nie (ek dink ek het so Oktober laasjaar se kant gaan kyk, en toe sommer hier van die Kaap af per faks gekoop). Die courtyard is 'n lekker verrassing, ek sien sommer die swembadjie wat ek daar gaan insit. Dis 'n lekker private hoekie vir lekker kuier. Verder was ek oudergewoonte heeltemal beindruk met die Karoo se ooptes en so 'n trippie soontoe maak altyd my kop lekker oop. Die huis is op Strydenburg, vir die wat dalk nie weet nie, dis ver, baie ver van die Kaap af, 750 km, maar lekker. Klein ou dorpie met baie karakter. Speel in my agterkop steeds met die gedagte om dit weer 'n (klein) gastehuis te maak, die dorp is die halfpadmerk tussen Jhb en die Kaap (via Kimberley) en dus 'n gerieflike oornagplek. Enigiets om weer semi-selfonderhoudend te word, soos ek gewoond geraak het aan in Sutherland. En dat ek weer kan gaan travel net wanneer ek wil. Minstens is my volgende Oosterse reis nie meer te ver nie, einde April, en dan gaan ek die eerste keer Korea toe, sien baie uit!


Sononder op Victoria-Wes, onderweg na Strydenburg. Waar in die wereld is die lug so mooi?


Langs die N12, ook op pad na Strydenburg. Karoo-sononder.


Daar was al 'n foto hiervan, maar hier is hy weer, lyk nog dieselfde. En daar staan my nuwe kar ook.


En wat is 'n Karoo-dorp sonder 'n groot kerk. Of drie. Daar bly (my skatting) minder as 1000 mense op Strydenburg, ek het minstens drie kerke getel. Hierdie is die Gereformeerde Kerk.

2 comments:

Voetstoots van Tonder said...

ek het die eerste foto op my rekenaar gesit as die "wallpaper"-agtergrond - dit werk perfek - so elke keer wat ek nou aanlog kan ek SA mis...

rondloper said...

Jislaaik, dis darem 'n lekker kompliment!