Wednesday, September 13, 2006

Saigon

Ek gaan more 'n draai maak in Saigon, Vietnam. My huissoektog gaan nie goed nie, ek het tog 'n plek gekry waarvan ek hou, maar die verhuurder se voorwaardes is eenvoudig waansinnig.
Asie" is darem soms vreeslik prettig, ek het my visum vir Vietnam binne enkele ure gekry, geen vorm ingevul nie, my paspoort bloot vir die bell boy by die hotel gegee.
Die ander opsie, as jy in Pretoria, SA aansoek doen, is as volg (ek het ook net R300 betaal in vergelyking met Pta se R500):
The requirements for a single entry 30 day visa
from Vietnam (Socialist Republic of)
(Last updated by Carol on 01/07/2004.)
The visa will be obtained in 7 working days.
The passport must be valid for 6 months.
Two photographs must be supplied.
The visa costs R 500.00.
A copy of the original air ticket must accompany
the application.
One application form must be submitted.
An itinerary must accompany the application.
A business letter must accompany the
application.
A letter of invitation must accompany the
application.
Ek verstaan nie waarom dit so moeilik is om visums te kry in SA nie as dit eintlik regtig maklik is op ander plekke.

Tuesday, September 12, 2006

Vraag en antwoord

Ek het 'n vraag vir al die goeie lesers van rondloper. Help asseblief! Skielik word ek geteister deur vrae oor my gastehuisplan in Kambodja. Volgens 'n Amerikaanse vriend in Korea is dit omdat ek die laaste tyd so vry was, meestal gereis het en dalk nie lus het om te settle nie. Ek dink hy is dalk reg. Dit voel heel anders om nou hier rond te gaan en 'besigheid' te praat - skielik is ek bang vir vasgekeerd voel. Ek moet minstens 'n driejaarkontrak teken as ek voortgaan met die planne. Maar ek weet nou nie meer nie. Ek kan nie aanhou rondloop nie (of kan ek, en bloot aanhou vryskut werk as joernalis, daar is baie werk?) Of moet ek myself vasteken hier? Ek het twee opsies, een duurder huis ($700 per maand), goeie ligging, maar Sihanoukville-toeriste (sover) kom ek agter wil bly vir $4 'n aand of minder! Dus is die duurder opsie dalk nie noodwendig die beste nie. Dan 'n klein woonstelblok (letterlik) in die middedorp, grondvloer is oopplan (restaurant?), eerste vloer is drie slaapkamers, woonarea, kombuis en balkon, tweede vloer is groot oopplan-area, met reeds ingeboude kroeg (was voorheen 'n kroeg), en dan is daar ook 'n dakgedeelte vir 'n chillout lounge. Dit alles kos $300 per maand. Het wel bietjie werk nodig. Is in die middedorp, maar die een ongemaklikheid daar is die oorvloed van 'Hostess Bars' in die area. En seedy Fransmanne wat uit die Foreign Legion geskop is wat nou daar uithang. I am confused! Ek dink ek gaan myself nog 'n bietjie tyd gee. Ek gaan dalk oor twee dae Vietnam toe.

Monday, September 11, 2006

Openbare vervoer


Hierdie motorfiets-sleepwa het by my verby gery op die pad tussen Kampot en Sihanoukville, terwyl my gedeelde taxi gaan staan het.


Ossewa. In Kambodja. Hulle gebruik soms ook waterbuffels, wat hulle elke nou en dan natgooi. Die waterbuffels moet seker nat gehou word.


Groot dele van die land is onder water, dus is hier ook baie bootjies. Jy kan allerhande plekke net per boot besoek.

Melancholies


Ek was die naweek in Kep, Kambodja se eerste kusoord en in die Franse tyd soos 'n klein Riviera hier in Indochina. Maar die Khmer Rouge het die plek sommer gou oorgeneem, lank voor hulle aan bewind gekom het, en ook daarna vir 'n tyd beset. Dis nou die mees melancholiese plekkie. Oral is tekens van die glorie van voorheen (mense soos Catherine Deneuve het hier uitgehang). Nou is alles vervalle, hier en daar probeer mense nuwe gastehuise skep, maar die atmosfeer bly maar erg melancholies. Dis een van die strande.


En hierdie hartseer vrou staar oor die see uit op soek na haar man. Ek het nou haar naam vergeet, maar daar is 'n legende rondom haar. Haar man het op see vermis geraak, en party mense se^ sy het toe heeltemal weggekwyn en net elke dag na die see gestaar, soos hier - ander se^ sy het 'n klein vloot op die been gekry en haar man gana soek (volgens hierdie weergawe is haar man vermoor op die oop see). Sy is toe self op see dood. Nou staan die eensame beeld nog hier in Kep.


Die dorpie is wyd uitgestrek, en oral is vervalle Franse villas, soos hierdie een. Daar is selfs 'n groot hotel wat nou net 'n geraamte is. Party van die villas staan sommer net so leeg, in party woon nou plakkers.

Sunday, September 10, 2006

Jy is nie alleen nie

Ek sien vandag op Rapport se website 'adv. Barbie' verjaar op dieselfde dag as ek. Sy het gister 'in 'n byna papierdun pers Weskoppies-rokkie, wasbleek, sonder enige grimering en met haar hare in 'n poniestert' haar 29ste verjaardag agter tralies in die Weskoppies-hospitaal vir psigiatriese pasiƫnte in Pretoria deurgebring. Lees die berig hier as jy wil. Ek het myne by die Rusty Keyhole in Kampot deurgebring met regte, egte Franse sjampanje, wat die restauranteienaar spesiaal vir my gaan koop het.
Op 'n ander punt: die selfoonnetwerk in Kambodja is maar swak, ek weet van heelparty mense wat die afgelope week of wat SMS'e vir my gestuur het wat ek nie ontvang het nie. As ek dus nie reageer op SMS'e nie, is dit omdat ek hulle nie kry nie.

Friday, September 08, 2006

Nuwe venue


Hierdie is 'n belangrike aankondiging vir diegene wat nou reeds in Phnom Penh is onderweg na my verjaarsdagparty. Die venue het verander. Ek gaan nou tuis in die Bokor Mountain Lodge (hierbo), in Kampot, die mees outentieke Franse-koloniale dorpie in Kambodja. Dis twee uur van Sihanoukville, deels met 'n grondpad/modderrige spoor.


Hier is kafee's soos hierdie op die rivieroewer waar jy baguettes en cafe au lait vir brekfis kan bestel.


Terwyl jy tonele soos hierdie oorkant die pad sien . . .


. . . of soos hierdie, in die pad.


En mense wat hou van vensters, of deure, sal nie teleurgestel wees nie.

Thursday, September 07, 2006

Blaas die toeter

Ek skryf hierdie met hande wat ligweg bewe: ek het vandag besluit om self 'n scooter te huur, eerder as die scooter-taxi's te gebruik, en, wel, dis vir my 'n heel nuwe ondervinding. Eerstens omdat ek nog nooit self 'n scooter gery het nie, maar dis gelukkig so maklik soos fietsry, maar tweedens omdat ek bietjie benoud was oor die Kambodjaanse bestuursgewoontes. Maar, when in Rome . . . Ek het nog nie eens weggetrek nie, toe begin ek al die toeter te gebruik, soos die locals, en dis verbasend watse gevoel van veiligheid dit gee. Hulle gebruik aanhoudend hul toeters, as waarskuwing dat jy op pad is, en dit werk ongetwyfeld. Dis eintlik die enigste padreel. En hou regs, meestal, soms, as jy lus is. Hier is nog 'n paar Sihanoukville-prentjies.


Iemand se drankie wat agtergebly het op die strand.


Sononder op Occheuteal-strand, dis die langste en gewildste strand hier. Daar is oral strandrestaurante, reg op die sand. Die Kambodjane swem met al hulle klere aan, hulle is 'n skamerige nasie.


Toonbeeld van weelde . . . My vreeslike kitsch hotelkamer. Om nie te praat van die olifantbeelde by die voordeur nie.

Wednesday, September 06, 2006

Huissoek


Ek het vandag verskeie huise bekyk in Sihanoukville. Ek het besluit dis die regte plek vir my gastehuis, dis 'n heerlike strandoord en besig om vinnig naam te maak. (Laat my baie aan Goa dink.) Daar is sover twee goeie kandidaathuise, hierdie een, in 'n stil straat, met ses slaapkamers, vir 'n allemintige $600 per maand. (Ek gebruik in al my Kambodja-posts die VSA-dollar as geldeenheid, dis wat hulle hier gebruik vir byna alle transaksies). Maar hierdie huis is nie in die beste posisie nie. Uitstekende sekerheid en die huis is perfek, byna geen werk nie. Pragtige tuin ook, en wonderlike balkon reg rondom.


Dis die straat voor die huis. Lekker stil, maar net minute per motorfiets na die hoofstraat of die strand. Die motorfiets op die foto staan voor die huis se hek. Die tweede huis het ek nie afgeneem nie, sal more. Dis $100 meer, maar het elf kamers en 'n FANTASTIESE see-uitsig van die dak af, wat 'n heerlike restaurant/lounge bar sal wees. MAAR daar is vreeslik baie werk wat aan die huis gedoen moet word. En dus baie geld wat ingestoot moet word in 'n huureiendom wat ek nie weer sal terugkry nie. Ek het darem baie tyd om te dink.


En dit is hoe die strand in die paradys lyk. Sihanoukville het vyf strande, almal kyk uit op onbewoonde eilande in die baai, en die seewater is louwarm. Hier kom die somer, sing Kerkorrel.

Vir die rekord

Ek maak nou soos Die Burger en vir vandag is ek 'n koerant van rekord. Want ek is nou in die tropiese paradys Sihanoukville en hierdie foto's voel nou heeltemal uit plek, maar ek plaas dit vir die rekord. Ek was nou die dag by die Tuol Sleng-museum in Phnom Penh, dis die Khmer Rouge se S21-tronk gewees, mense is lank daar aangehou en gemartel voordat hulle voor die voet uitgemoor is. Van so 1976 tot 1979 toe Vietnam Kambodja bevry het. Nou is die plek 'n baie eerie museum, dis ontsettend terneerdrukkend om daar rond te loop. Laaskeer was ek by die Killing Fields self (een van hulle) net buite Phnom Penh, maar ek het toe nie krag gehad vir Tuol Sleng nie. Hierdie keer sal ek ook net Tuol Sleng besoek, dis te erg eintlik. Die plek is regtig erg, daar is foto's wat die Khmer Rouge self geneem het van al die slagoffers (ook baie kinders, kyk hier onder) en vreeslik baie dokumente wat alles vertel wat daar gebeur het. Maar veral die foto's is woes, die mense se gesigsuitdrukkings in die aangesig van die dood. Party glimlag selfs, baie staar net voor hulle uit, maar die meeste lyk angsbevange. Want jy't geweet wat op jou wag in daai plek. Die tweedelaaste foto wys 'n 'galg' waar hulle mense onderstebo opgehang het, en hul koppe in emmers water gedompel het.





Tuesday, September 05, 2006

Legende

Ek blaai vanoggend so vinnig deur die SA koerante op die web en sien daar is byna geen nuus oor die dood van die legendariese Steve Irwin nie. Terwyl CNN op TV byna aanhoudend daaroor berig en dit die mees gelese artikel op CNN se webwerf is. Irwin was nogal 'n legende en ek dink bekend in omtrent elke huis ter wereld, hier in Kambodja kyk mense twee keer na die TV-skerms as sy gesig wys. Ek wonder hoekom die SA media dit grotendeels ignoreer.

Uitnodiging

Alle vriende van rondloper word hartlik uitgenooi na sy 35ste verjaardagviering te Sihanoukville, Kambodja, op 9 September (komende Saterdag). Dit sal 'n beach party wees. As julle more op die vliegtuig klim, van enige plek in die wereld, na Bangkok of Kuala Lumpur, dan is Phnom Penh net 'n uur verder van Bangkok of twee uur van KL, met goedkoop Air Asia, en Sihanoukville net drie uur verder per bus met Mekong Express, lekker cheap en vinnig. Verbly in Sihanoukville is beskikbaar in die Golden Sand Hotel (driester), waar ek bly, vir net $20 (R140) per aand (kamer met plek vir twee, as jy deel is dit dus net $10 elk), en dis oomblikke van die strand af. Of jy kan in vreeslik eenvoudige strandhutte bly vir so $4 (R28) per aand, met basiese geriewe. Ek kan nie aan 'n beter en goedkoper idee dink as om die naweek deur te bring nie. Ons kry mekaar by die Corner Bar op Victory Hill, vanwaar ons sononder oor die Golf van Thailand sal geniet, en dan sal ons afskuif na een van die kuierplekkies op die strand.

Sunday, September 03, 2006

Terug



Ek het vanoggend vroeg in Phnom Penh aangekom. Hoe anders as die vorige keer. Toe was dit uit die lug 'n klein stadjie in 'n groot, droe" vlakte, hierdie keer is dit 'n klein stadjie wat net so hier en daar uitsteek in 'n massiewe dam water. Dis nou moesontyd en uit die vliegtuig was daar net water so ver soos die oog kan sien, paaie toe onder die water en selfs hier en daar huise wat lyk asof hulle op hul eie klein eilandjie staan. Nogal baie indrukwekkend uit die lug uit. Dit lyk asof die stad skielik verswelg is deur al die water, maar natuurlik is dit nie so nie. Ek dink dit lyk elke jaar so. En die stad is vir my selfs meer eksoties as voorheen, ek staan weer verstom deur die vermenging van die Franse/Khmer- en selfs bietjie Indiese invloede. Daar is ook hierdie keer veel meer reuke van blomme, iets wat ruik soos frangipani's, in die lug. Die luggie is effe koeler as laas, daar is so 'n ligte briesie wat waai en dit is net te wonderlik, luilekker tropiese atmosfeer. En die derduisende motorfietsryers sonder helmets jaag steeds in elke denkbare rigting sonder om te stop vir enigiemand. Maar dit werk, lyk nie of enigiemand mekaar raakry nie. Ek het vanmiddag langs die Mekongrivier, in 'n Franse restaurantjie, iets gaan eet - cafe latte en 'n baguette. Vanaand sal ek weer Khmer kos probeer. O, ja, dis net so goedkoop soos ek onthou, 'n pakkie sigarette was 50c (Amerikaans), dus omtrent R3,50? Sekerlik vervals, soos baie dinge hier. Maar die ongekende optimisme en lewenslus hier is wat ek onthou, en is hoekom ek graag wou terugkom.

Friday, September 01, 2006

Dit raak net beter


Die uitsig van my hotelkamer oor die Chao Praya-rivier. Dis moesontyd en die donker wolke voorspel swaar reen.


En as jy reguit af kyk, kan jy na al die mense in die swembad kyk. Daai terrassie wat so oor die rivier hang, is 'n plekkie waar mens kan gaan eet. Bo links is die hotel se riviertaxi op pad om vas te meer.

Ek voel, aangesien ek nou al op vorige geleenthede so tekere gegaan het oor Bangkok, moet ek nou maar vir die tweede keer erken ek was dalk verkeerd. My eerste twee besoeke hier het die plek my glad nie aangestaan nie. Wat my mening meestal beinvloed het, was die aaklige, bruin besoedelingswolk wat soms oor die stad hang, op straat voel jy of jy nie kan asemhaal nie. Maar met al my besoeke daarna (vandag is die derde of vierde keer) was (is) die lug skoon, helderblou. En die stad voel net vir my al nicer. Ek is te moeg om vandag rond te loop en foto's te neem, maar hierbo is twee sommer so van my hotelkamer se venster. Ek het hierdie keer op 'n ander hotel besluit (ek bly deesdae altyd eerder in hotelle of gastehuise nadat ek uitgevind het as jy op die internet bespreek, kos dit dikwels regtig nie veel meer as 'n enkelkamer in die sogenaamde backpackers-plekke waar jy net die mees basiese geriewe kry nie.) Hierdie keer is my hotel langs die Chao Praya-rivier, wat deur Bangkok kronkel en wemel van lewe. Ek het 'n uitsig op die rivier. Wonderlik. En as ek iewers heen wil gaan, gebruik ek die hotel se gratis riviertaxi om na die Skytrain se stasie of ander plekke te vaar. Ja, Bangkok, is eintlik lekker. Nie mooi nie, maar baie interessant en vol lewe. Dit wys jou net, mens kan nie eintlik 'n mening oor 'n plek vorm as jy net een keer daar was en die eerste keer dalk nie so lekker was nie. Ek bly twee dae hier oor voordat ek Kambodja toe gaan.

Dis my geheim

Ek wil drie geheimpies met my lesers deel oor Dubai-lughawe. Ek vlieg graag met Emirates omdat hulle baie billik is, en na my mening die naasbeste lugdiens van die (sowat) 29 lugdienste is waarmee ek al gevlieg het (ja, ek spog!) en natuurlik omdat ek Voyager-myle op hulle verdien. Dus aanvaar ek soms die effense ongerief om in Dubai oor te stap na 'n volgende vliegtuig en soms daar te wag vir 'n paar uur. Maar hier is die geheimpies, eksklusief hier op rondloper! Diegene wat al op Dubai se lughawe was, weet die plek het nou al te klein geword vir al die mense, want Emirates het so baie vlugte en hulle is amper altyd propvol, dus is daar letterlik duisende mense op een slag wat meeding om 'n plekkie in die son. Daar is glad nie meer genoeg toilette nie. Behalwe by die lughawehotel se koffiekroeg, en byna niemand weet blykbaar daarvan nie. Die pryse is dieselfde as by enige van die ander eetplekke op die lughawe, MAAR jy het plek vir jouself. Daar is byna nooit mense nie, en jy kan selfs heerlik op die rusbanke slaap totdat die son opkom, maar as die son opkom maak hulle jou wakker. En jy kry vyfsterdiens in teenstelling met die gewone restaurante onder waar die gepeupel uithang, waar jy net 'n nommer is. Jy hoef nie in die hotel te bly nie, maar jy kan die koffiekroeg/lounge gebruik. Dis binne in die lughawe, waar al die oorstap-passasiers so 'n entjie ondertoe vuisslaan om 'n sitplekkie. Alles nog in die 'transit'-gebied. Volg net die bordjies na die 'Transit Hotel'. Dis waar ek vanoggend gerus het na my vlug van Johannesburg. Dit was geheim nommer een. Geheim nommer twee hou daarmee verband. In dieselfde omgewing, daar by die hotel, is 'n sauna en storte, en 'n GROOT borrelbad, ook oop vir enigiemand. Jy betaal wel 'n paar dollar, maar dis baie min. My oorstaptyd was hierdie keer te kort om dit te gebruik, maar die terugtog kom nog. Net reg om jouself te lawe tussen vlugte. En geheim nommer drie, as jy langer as drie uur moet wag vir jou volgende vlug (op Emirates) kry jy 'n gratis ete (groot en lekker) in die Emirates Transit Lounge. Wys net jou boarding pass. Dankie, Andre, volgende keer gaan ons oorsese reise met Emirates soveel lekkerder wees! Wel, die van ons wat soos gewone aardlinge in ekonomiese klas vlieg en nie deur ons maatskappye geborg word nie. Maar selfs vir ons is daar vreugdes!

Thursday, August 31, 2006

Hou my warm


Dit is koud in Roodepoort. Binne dae is ek hier, waar dit warm is.

Waarheen gaan jy

Dit was 'n hartseer twee weke, en eintlik twee maande, vir die Gouws-gesin. My tannie is sowat twee maande gelede dood, my niggie (haar kind) verlede week en my ouma vandeesweek. Daar is mos mense wat se^ sulke dinge gebeur in driee". My ouma was baie oud en het 'n lang lewe gehad, dis maar die verloop van die lewe. My niggie was so oud soos ek, en dis nogal 'n skok. Mens besef maar net weer dat jy nie tyd het om te mors op hierdie aarde nie, die lewe is kosbaar en daar is nie tyd vir nonsens nie. Ek het baie gedink na my niggie se dood, mens wonder mos maar altyd wat doen jy nou eintlik hier en waarheen gaan jy. Sal jy ooit weet as jy veronderstel is om nou tevrede te wees, of is daar maar altyd iets meer en beter wat jy soek?

Waar kom jy vandaan


Wie was jou oupa?

Ek is soms graag 'n toeris in my eie land. Ek was nou 'n paar dae in Roodepoort, vlieg more na Bangkok. Toe ek nog 'n klein seuntjie was en met verwondering in my oe" gedroom het oor al die verre lande, het baie mense my erg kwaad gevra of ek darem my eie land ken. Ek is baie trots om te erken dat ek waarskynlik al meer van my eie land gesien het as die meeste mense. Die noorde van KwaZulu-Natal is omtrent die grootste uitsondering, verder was ek al van Thohoyandou tot Hermanus, Kokstad tot Springbok, Matatiele tot Uniondale en so gaan dit aan.
Vandag het ek Maropeng, die nuwe besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom, net buite Krugersdorp, besoek. Dit is ook die deel van die land waar ek grootgeword het.
En wat 'n wonderlike ervaring was dit nie. Daar is geen plek op hierdie hele aardbol wat kan spog dat hy die beginpunt van die mens soos ons hom vandag ken, was nie, behalwe hier net buite my grootword-plek. Omtrent 200 000 jaar gelede het die eerste moderne mense hier gewoon. Dis die plek met die meeste geskiedenis ter wereld.
Ek was al baie in die Sterkfontein-grot (Mev. Ples se huis), en ook by Kromdraai se Wondergrot, waar nog fossielvondste gedoen is. Maar Maropeng is nuut. Die Wieg van die Mensdom is 'n Werelderfenisgebied (in my skooldae was daai die omgewing waar die maplotters gewoon en mekaar gedonner het as hulle lus kry, maar dinge verander . . . )
Nou (die maplotters is nog daar, so effentjies) is daar 'n skouspelagtige nuwe besoekersentrum op die rand van die Magaliesberge. Toe ons vandag soontoe ry, was die gras vaal en die lug vol stof, tipiese Hoeveldse wintersdag, maar allerhande ou herinneringe het vir my teruggekom. Daar is darem net iets spesiaal aan hierdie soort dae. Ek het sommer weer gedink aan al die drome van 'n jong seun, wat daarvan waar geword het en waaroor ek steeds droom, dit alles danksy die skerp wintersluggie en die stof wat oor die berge gewaai het.
En toe kom ons by Maropeng, wat 'n meesterstuk van SA argitektuur is. Van ver lyk dit soos niks, 'n vaal grasheuwel, maar die sentrum is so gebou dat dit inpas by die omgewing, grotendeels ondergronds en wat bogronds is, pas goed in. Binne is wonderlike uitstallings oor evolusie, wat jy bereik deur met 'n bootjie op 'n ondergrondse meer te vaar, met donderweer wat klap en bliksemstrale wat blits. Alles baie opwindend.
My ma was bietjie ontsteld oor die hele evolusie-ding, want waar pas die Bybel dan in, wou sy weet. Ek het nie lus gehad vir 'n lang, filosofiese gesprek daaroor nie, maar my verduideliking was bloot dat selfs die Big Bang gesien kan word as die skepping, en vandaar het ons as mense ontwikkel. Soos toe die Hemel en Aarde geskei is, vra sy toe. Netso! Sy was tevrede daarmee.


Die Maropeng-sentrum se ingang. Dit lyk asof dit net 'n grasheuwel is. Die mure van die koepel daar voor is inderdaad met gras beplant.


En wanneer jy al die ondergrondse tonnels bekyk het, dan kom jy hier uit, met 'n uitsig van die Magaliesberge voor jou en hierdie baie aardse gebou agter jou. Dis mos slim, relevante bouwerk hierdie, g'n Toskaanse twak nie.


Die agterkant van die sentrum kyk uit oor die Magaliesberge, daar is 'n restaurant, skemerkelk-kroeg en ontspannings-'lounge' waarvandaan jy oor die berge kan tuur. En die hele gebou smelt saam met die omgewing.

Tuesday, August 29, 2006

Dis daar


Sommige mense het my al gevra presies waar is Kambodja dan. Hier is 'n kaart om hulle te help.

Sunday, August 27, 2006

Al die veld is vrolik


Ek het hierdie naweek die pad gevat na die Overberg, so 'n vinnige draai gaan maak op Teslaarsdal en toe Hermanus aangedoen. Soos jy oor Sir Lowry's ry, ontvou die een ongelooflike toneel na die ander, daar is plate en plate blomme, soos hierdie, en die koringlande is lowergroen.


Ek was meer as agt maande laas op my plasie by Teslaarsdal, en wou net graag weer gaan kyk hoe lyk dit en op my stukkie Afrika-grond staan voordat ek weer hierdie week Kambodja toe gaan. Daar was al voorheen prentjies hier van my grond, hier is dit uit 'n ander hoek, vanaf die grensdraad.


En so lyk die huise in Teslaarsdal self. My grond is net langs die dorp.


So een en 'n half kilometer aan die ander kant van die dorp, op die Hermanus-pad, het ek hierdie foto geneem. Teslaarsdal is 34 km van Caledon en 39 km van Hermanus. Jy kan net met 'n grondpad soontoe ry, en ek het byna vasgeval hierdie naweek, maar gelukkige het my (antieke) BMW 4x4-funksies en ek het gemaklik elke slaggat en donga gekruis. Toe ek op Hermanus aankom, toe lyk dit wraggies of ek ge4x4 het.

Friday, August 25, 2006

Sonja, Sonja!


Ek het gisteraand na hierdie show gaan kyk. En, ja, ek is nie eens skaam om dit hier te erken nie. Ek het bietjie gesukkel om iemand te kry om saam met my te gaan, mense wat hulle neuse optrek vir wat ek reken een van Suid-Afrika se beste sangers is. Daar is geen twyfel nie, in die meeste mense se koppe is Sonja Heroldt nog dieselfde vrou wat met 'n piepstemmetjie twintig jaar gelede allerhande ligsinnige liedjies gesing het (daar is 'n tyd en plek vir alles). Hiedie show van haar is net eenvoudig fantasties. Sy het die laaste jare regtig gegroei as kunstenaar (in 'n rigting wat ek van hou) en ek dink sy is wonderlik. Baie van haar ou songs is steeds fantasties, sy het dit net effens verwerk en gemoderniseer (dis op haar CD Reconstructing Alice). Sy het een deel van gisteraand se show in 'n Che Guevara-T-hemp gedoen. Wonderlik! Dis regtig 'n goeie vertoning, Sarah Theron is ook daarin, en dis baie modern en hip. Dis nie die Sonja wat die meeste mense ken nie, maar dit is wel die liedjies wat jou terugvoer na 'n ander tyd. Ek dink sy is soos Abba, tydloos.