Thursday, September 28, 2006

Sirkels

Die afgelope week of wat was maar stillerig aan my kant, ek was in Kuala Lumpur, waar ek net gerus het, en het toe 'n blitsvinnige draai in Phuket gemaak op pad terug na Bangkok vir my vlug terug na Johannesburg. Ek kan oor vier interessante waarnemings hier berig.
1. In Phuket kan 'n mens mieliepasteie koop. Vir iemand soos ek wat nie vleis eet nie, maar tog soms lus is vir 'n lekker pastei, is dit wonderlik. En 'n fantastiese afwisseling van die gewone feta en spinasiepastei.
2. 24 uur is heeltemal te min tyd in Phuket.
3. Op die terugvlug van Dubai na Johannesburg, het die vliegtuig 'n draai gemaak oor die Palm-eilande, die mensgemaakte eilande in Dubai in die vorm van 'n palmboom. Ek moet bieg, ek het gestaar en gestaar, ek was heeltemal stomgeslaan toe ek dit sien. Mens hoor daarvan, maar jy verwag nie dis so indrukwekkend nie. Baie mense se^ Dubai is soos 'n fantasiewe^reld, en die bietjie wat ek uit die lug gesien het, bevestig dit. Die Palmeilande het voorheen vir my net te onwerklik geklink om werklik te wees, maar nou het ek gesien dis werklik. Verstommend. En dis nog nie eens 'Die We^reld', hulle volgende eilandprojek nie.
4. Emirates vlieg oor Somalie" op pad na Suid-Afrika. Uit die lug sien jy net sand en woestyn. Nou ek het onlangs gehoor die Amerikaners praat van Al Kaida-basisse in Somalie - sou kommersie"le vliegtuie nie 'n maklike teiken wees nie? Ek het nogal die hele tyd, meer as 'n uur, wat ons letterlik van noord na suid oor Somalie" gevlieg het, onder meer oor Mogadisjoe, hieroor gewonder.


Jammer die foto is so dof, maar daar was BAIE stof in die lug. Mens kan tog sien hoe indrukwekkend die Palmeilande is. Vergelyk die grootte met die seilskip-hotel in die voorgrond (die Burj al-Arab, mens sien dit altyd in Emirates se advertensies, die hoogste hotel ter we^reld - 305 m. Hy staan ook op sy eie, mensgemaakte eiland. En interessant genoeg lees ek nou Murray en Roberts van Suid-Afrika het dit gebou, ek het dit nie geweet nie.)


Die vorige keer toe ek teruggevlieg het van Dubai, het ek geskryf oor hoe mooi Zanzibar uit die lug gelyk het. Hierdie keer het ek 'n foto geneem.

Saturday, September 23, 2006

Die gemaklike lewe

Ek moet bieg, ek hou darem soms van die gerieflike lewe. Dis vir my verskriklik lekker om nou in Kuala Lumpur in blink winkelsentrums rond te hang en by fancy coffee shops die ure te verwyl. Darem 'n wereld verwyder van Kambodja! ESPN het gisteraand 'n onderhoud met my gevoer oor die naglewe in KL se 'Asian Heritage Walk'. Ek het nie eens geweet van die plek nie, een van my vriende hier het my gisteraand soontoe gevat. 'n Hele straat vol restaurante en nagklubs in gerestoureerde geboue. Nogal soos Boat Quay in Singapoer, net sonder die rivier. So, diegene wat gereelde ESPN-kykers is, miskien sien julle rondloper een van die dae in 'n program oor KL se naglewe.

Wednesday, September 20, 2006

Ek is (nog) nie in Thailand nie

Ek is in Maleisie, nie Thailand nie. Daar is dus geen rede vir kommer nie. En al was ek in Thailand, die staatsgreep was bloedloos en daar is nou bloot 'n militere regering, niks nuuts in Thailand nie (dis die sewentiende een sedert die Tweede Wereldoorlog). Ek gaan eers oor drie dae soontoe. Die groter probleem deesdae in Thailand is die burgeroorlog in die suide van die land, wat maar min publisisteit in die buiteland kry. Daar was so drie dae gelede 'n bomontploffing waarvoor Moslem-separatiste verantwoordelikheid aanvaar het in Hat Yai, gewilde suidelike toeristedorp. Een buitelander is dood. Maar dis baie streeksgebonde.

Tuesday, September 19, 2006

Kies kant

Dis vir my verstommend watse verskil 'n grenslyn kan maak. Vietnam was vir my ongelooflik lekker. Voorheen het ek baie mense ontmoet wat nie van Vietnam gehou het nie, hulle het gekla die Vietnamese is bietjie lastig (bedelaars, verkopers) en skelm. En dan het ek mense ontmoet wat dieselfde oor Kambodja gese^ het. Dit was duidelik dat baie mense of hou van Kambodja, of Vietnam, nie albei nie. Jy is 'n Vietnam-mens of 'n Kambodja-mens. Nou, ek is albei, maar ek moet se^ vir my is Vietnam by verre die beste. En die grootste verskil, dis skoon. Ongelooflik skoon. Gisteraand toe ek oor die grens ry terug in Kambodja in, is dit ongelooflik opvallend: aan Vietnam se kant silwerskoon, aan Kambodja se kant smerig vuil. Ek verstaan dit nie eintlik nie, albei lande het baie arm mense, hulle is bure, maar die een kant van die draad is skoon en die ander kant vuil. Ek dink dis deel van 'n nasie se psige - party lande is nou maar net skoon en ander nie. Dink Botswana. Relatief ryk, maar smerig vuil. Zimbabwe langsaan, arm, maar silwerskoon. Ek hou steeds van Kambodja, baie mooi plekke en nice mense, tog jammer hulle is so lief vir rommelstrooi. En my ondervinding in Vietnam was goed, ek voel nie ek is ooit ingeloop nie, ek het nice mense ontmoet, en dis 'n pragtige plek. Dus is ek 'n Vietnam-mens.

Sunday, September 17, 2006

Nog 'n pad


Een van daai wonderlike spirituele plekke wat mens soms raakloop langs die pad staan so 100km buit Saigon, die hoofsetel ('Holy See') van die Cao Dai-godsdiens, 'n Vietnamese uitvindsel wat so tussen drie miljoen en agt miljoen (niemand weet regtig nie) aanhangers het, meestal in Vietnam en Kambodja, klein bietjie in Amerika. Die wonder hiervan is, soos die Ba'hai, en meer as dit, het hulle omtrent elke denkbare geloof alles saamgevoeg tot een nuwe geloofstelsel, wat vreeslik baie van die dinge wat die mens tot dusver weet van godsdiens en die mistieke saamvoeg. Ook die wetenskap, want alles het begin by die Big Bang, glo hulle. (Soos ook die Kabbaliste.) Ek moes net gaan kyk, en is geinspireer om meer oor hulle op te lees.
Daar is heelparty eienaardighede: in kort is hulle 'n vermenging van die Boeddhisme en die Confucianisme en Taoisme, maar ook die Christendom, Islam, voorvadergodsdienste en nog veel meer. Hulle glo die mens leef nou in die 'derde alliansie' met God, en hul profete sluit in mense soos Victor Hugo, Thomas Jefferson, Jesus, die Boeddha, William Churchill et al. Hulle hou 'seance' en ontvang so mistieke gewaarwordings.
Op hul eie webwerf skryf hulle die kernbeginsels van wat hulle glo, is:

God
God is the Original Spark of Life who creates the whole Universe, including Human beings.
God reigns within each of us and within every of his creatures. To look for God, we have to look back deep inside ourselves.
God is not a person. God is the Supreme Law which creates Life and governs the Universe.

Love
Love is the conerstone of the Cao-Dai teaching.
Love should start within the family cell and extend to the country and the whole world.
We cannot love God or love the world without first loving our parents and our family members
Cao-Dai preaches harmonious relationship with ourselves, with every other human beings, with every creatures of God and with the Universe.

Man
Every human being has his Origin in God The Father. Every one of us has God Within.
Man comes to this Earth plane to grow spiritually to become One with God.
In becoming One with God, Man can help God create the Universe.

Al die mooi dinge van alles wat ons ken, saamgevoeg in een. 'n Baie goeie opsomming van hul geskiedenis en beginsels verskyn hier. Lees dit gerus as jy belangstel. Dis vir my fassinerend. 'n Lekker tong-in-die-kies-reisartikel hier of Wikipedia het ook verskeie skakels.

Saturday, September 16, 2006

Ek is 'n mol


Vandag by Cu Chi, so 50 km buite Saigon, na die tonnels gaan kyk wat die Vietcong gehelp het om die oorlog teen die imperialiste te wen. Fassinerend. Die dag het begin met 'n prettige propagandafilm met sulke opswepende musiek en beelde van Vietnamese soldate wat die Amerikaners met 'n glimlag afmaai. Hier is ek binne in een van die tonnels.


En klouter uit. Die Amerikaners kon nooit die tonnels vernietig nie, hulle het alles probeer. Die Vietnamese het selfs tot binne in die Amerikaanse basisse gegrawe. Die Cu Chi-gebied was 'n 'Free Bomb Zone' wat beteken het Amerikaanse bomwerpers wat nie al hul bomme verder noord afgegooi het nie, het dit op Cu Chi laat val voordat hulle in Saigon geland het. Cu Chi is die mees vernietigde deel in Vietnam gewees, platgevee, met gifgasse bestook, bosse vernietig en mense voor die voet vermoor. Maar die Amerikaners kon dit nooit oorneem nie. Daar was meer as 250 km se tonnels en van hulle tot tien meter diep.


En die ou wat voor my in die tonnel gekruip het, het Afrikaans gepraat. Hy't vir sy meisie iets geskreeu in die lyn van: 'Donners kruip net man'. Jy kan nie regop staan binne nie. Van die tonnels wat ons gesien het, was rekonstruksies en van hulle die ware Jakob.


Die Vietnamese se veldkombuis. Daar is ook hospitale, klerefabrieke, wapenfabrieke. Alles so half-ondergronds, met dan tonnels (regs van die blou bak op die regterkant) waarheen hulle kon vlug as die Yanks kom.


En as al die oorlogdinge die adrenalien in jou wakker maak, kan jy elke denkbare outomatiese geweer (soos 'n AK47) op die skietbaan gaan gebruik. Vir net so R10 per koeel. Ek het nie geskiet nie.

Friday, September 15, 2006

Wanneer u die sein hoor, is dit . . .


Saigon se eenvoudig ongelooflike hoofposkantoor.


Met 'n groot verrassing binne, die tyd in Pretoria word ook by die telefoonhokkies aangegee.


En dis hoe dit binne lyk. Ek sal elke dag hier kom briewe pos as ek in Saigon gewoon het.


Interessante kontraste op straat. Aan die een kant hierdie propagandaplakkate (reg oorkant die Katolieke katedraal).


En dan net oorkant die straat, by die baie posh Diamond-afdelingswinkel, die wonders van die kapitalisme.

Thursday, September 14, 2006

Parys van die Ooste

Ek het 'n nuwe gunstelingplek in die wereld: Saigon. Vandag hier aangekom op 'n baie gemaklike en vinnige bustrippie van Phnom Penh af, en wat 'n wonderlike, wonderlike stad! Verskoon asseblief die cliche, maar reisboeke praat van Saigon as die Parys van Asie". Nou ek was nog nooit in die Parys van Europa nie, wel in die Parys van Suid-Amerika - en ek dink al is dit so 'n groot cliche is die vergelyking wel waar. Die stad is pragtig, blombakke wat hang op gekartelde ysterbalkonne, bree" boulevards, chic staartkafee's en modewinkels, statige, ou geboue, en baie, baie bome. Ek het vandag 1 000 000 (een miljoen) dong (die plaaslike geld) by die bankmasjien getrek, ek moes kies tussen opsies tussen 100 000 en 2 miljoen. Toe kies ek maar 1 miljoen, wat ek later uitwerk so R500 is. Nog 'n plek waar mens gewoond moet raak aan baie nulle by die pryse. Wat, mag ek byvoeg, baie laag is. Dis 'n heerlike verligting om hier te wees, ek het begin mismoedig raak in Kambodja omdat my planne nie wil uitwerk nie. Maar dit maak nie meer saak nie. 'n Interessante waarneming, Vietnam is teoreties 'sosialisties', hoewel hy maar soos China die kapitalisme met ope arms aangegryp het en die Kommunistiese Party nou net die politiek beheer. (Vietnam was voorheen 'n vriend van Rusland, en die hamer en sekelvlag hang op baie plekke, hier is ook baie propagandaborde langs die paaie.) Maar die Vietnamese, lees ek, is 'n nasie wat al die beste van alles uit hulle geskiedenis vat en saamvoeg tot iets wat vir hulle werk. Die politieke beheer hou die land aan die werk en die infrastruktuur besonder goed - die regering bou en breek soos in China om te moderniseer, dus is die paaie goed, die strate skoon, die sypaadjies nie vol gate nie, 'n algehele kontras tot Kambodja se chaos en vuilheid. Jy raak later maar gewoond aan die vuilheid. Maar as jy in Saigon aankom is dit regtig verfrissend, skoon en netjies, met die gewone chaos van Asiatiese paaie (duisende motorfietse en fietse) wel daar. O, wat ek eintlik wil se^, die kommuniste hier het tog 'n goeie job daarvan gemaak om die plek te ontwikkel, as mens dit vergelyk met byvoorbeeld Kambodja (wat nou maar eers die laaste vyftien jaar 'vry' is, maar dit lyk nie of Kambodja, wat infrastruktuur betref, te veel vooruit gaan nie, terwyl Vietnam met 'n sterk, sentrale regering naas China een van die vinnigs groeiende lande ter we^reld is.)


Die Notre Dame-katedraal is in 1877 gebou. Vietnam se bevolking is sowat 10% Katoliek, oor die Franse invloed. Die katedraal is op 'n eiland tussen 'n klomp BAIE besige strate, jy kyk nogal op na die kruis voordat jy die verkeer aandurf.


Die museum van Ho Chi Minh-stad (Saigon se 'nuwe' naam, maar almal praat van Saigon.) Dit was die Franse goewerneur se paleis.


Binne is 'n wonderlike kontras. Anti-imperialistiese (lees: anti-Amerikaanse) propaganda en kommunistiese slagspreuke, uitgestal in die mooiste, mooiste koloniale paleis. Hierdie is Ho Chi Minh, die byskrif by die beeld lees: 'Ho Chi Minh verlaat Saigon om die ware beginsels van die revolusie in die platteland te gaan leer.'


Buitekant staan vliegtuie, karre, 'n tenk en 'n helikopter wat in die Vietnam-oorlog gebruik is. Maar Coke is ook hier.


Sulke lang gange met hortjies wat oopmaak op die tropiese tuine. Ek kan sien dat die Franse goewerneur heerlik hier gebly het.


Hierdie is die Hotel Metropole. Cafe, monsieur?


Om oor die straat te stap, is moeilikerig. Die Lonely Planet skryf jy moet net loop, moenie stop nie. Al is daar verkeer. Want hulle verwag jou en ontwyk jou, as jy stop, verwar jy hulle. Vandag, tot dusver, het Lonely Planet se raad (snaaks genoeg!) gewerk.

Wednesday, September 13, 2006

Saigon

Ek gaan more 'n draai maak in Saigon, Vietnam. My huissoektog gaan nie goed nie, ek het tog 'n plek gekry waarvan ek hou, maar die verhuurder se voorwaardes is eenvoudig waansinnig.
Asie" is darem soms vreeslik prettig, ek het my visum vir Vietnam binne enkele ure gekry, geen vorm ingevul nie, my paspoort bloot vir die bell boy by die hotel gegee.
Die ander opsie, as jy in Pretoria, SA aansoek doen, is as volg (ek het ook net R300 betaal in vergelyking met Pta se R500):
The requirements for a single entry 30 day visa
from Vietnam (Socialist Republic of)
(Last updated by Carol on 01/07/2004.)
The visa will be obtained in 7 working days.
The passport must be valid for 6 months.
Two photographs must be supplied.
The visa costs R 500.00.
A copy of the original air ticket must accompany
the application.
One application form must be submitted.
An itinerary must accompany the application.
A business letter must accompany the
application.
A letter of invitation must accompany the
application.
Ek verstaan nie waarom dit so moeilik is om visums te kry in SA nie as dit eintlik regtig maklik is op ander plekke.

Tuesday, September 12, 2006

Vraag en antwoord

Ek het 'n vraag vir al die goeie lesers van rondloper. Help asseblief! Skielik word ek geteister deur vrae oor my gastehuisplan in Kambodja. Volgens 'n Amerikaanse vriend in Korea is dit omdat ek die laaste tyd so vry was, meestal gereis het en dalk nie lus het om te settle nie. Ek dink hy is dalk reg. Dit voel heel anders om nou hier rond te gaan en 'besigheid' te praat - skielik is ek bang vir vasgekeerd voel. Ek moet minstens 'n driejaarkontrak teken as ek voortgaan met die planne. Maar ek weet nou nie meer nie. Ek kan nie aanhou rondloop nie (of kan ek, en bloot aanhou vryskut werk as joernalis, daar is baie werk?) Of moet ek myself vasteken hier? Ek het twee opsies, een duurder huis ($700 per maand), goeie ligging, maar Sihanoukville-toeriste (sover) kom ek agter wil bly vir $4 'n aand of minder! Dus is die duurder opsie dalk nie noodwendig die beste nie. Dan 'n klein woonstelblok (letterlik) in die middedorp, grondvloer is oopplan (restaurant?), eerste vloer is drie slaapkamers, woonarea, kombuis en balkon, tweede vloer is groot oopplan-area, met reeds ingeboude kroeg (was voorheen 'n kroeg), en dan is daar ook 'n dakgedeelte vir 'n chillout lounge. Dit alles kos $300 per maand. Het wel bietjie werk nodig. Is in die middedorp, maar die een ongemaklikheid daar is die oorvloed van 'Hostess Bars' in die area. En seedy Fransmanne wat uit die Foreign Legion geskop is wat nou daar uithang. I am confused! Ek dink ek gaan myself nog 'n bietjie tyd gee. Ek gaan dalk oor twee dae Vietnam toe.

Monday, September 11, 2006

Openbare vervoer


Hierdie motorfiets-sleepwa het by my verby gery op die pad tussen Kampot en Sihanoukville, terwyl my gedeelde taxi gaan staan het.


Ossewa. In Kambodja. Hulle gebruik soms ook waterbuffels, wat hulle elke nou en dan natgooi. Die waterbuffels moet seker nat gehou word.


Groot dele van die land is onder water, dus is hier ook baie bootjies. Jy kan allerhande plekke net per boot besoek.

Melancholies


Ek was die naweek in Kep, Kambodja se eerste kusoord en in die Franse tyd soos 'n klein Riviera hier in Indochina. Maar die Khmer Rouge het die plek sommer gou oorgeneem, lank voor hulle aan bewind gekom het, en ook daarna vir 'n tyd beset. Dis nou die mees melancholiese plekkie. Oral is tekens van die glorie van voorheen (mense soos Catherine Deneuve het hier uitgehang). Nou is alles vervalle, hier en daar probeer mense nuwe gastehuise skep, maar die atmosfeer bly maar erg melancholies. Dis een van die strande.


En hierdie hartseer vrou staar oor die see uit op soek na haar man. Ek het nou haar naam vergeet, maar daar is 'n legende rondom haar. Haar man het op see vermis geraak, en party mense se^ sy het toe heeltemal weggekwyn en net elke dag na die see gestaar, soos hier - ander se^ sy het 'n klein vloot op die been gekry en haar man gana soek (volgens hierdie weergawe is haar man vermoor op die oop see). Sy is toe self op see dood. Nou staan die eensame beeld nog hier in Kep.


Die dorpie is wyd uitgestrek, en oral is vervalle Franse villas, soos hierdie een. Daar is selfs 'n groot hotel wat nou net 'n geraamte is. Party van die villas staan sommer net so leeg, in party woon nou plakkers.

Sunday, September 10, 2006

Jy is nie alleen nie

Ek sien vandag op Rapport se website 'adv. Barbie' verjaar op dieselfde dag as ek. Sy het gister 'in 'n byna papierdun pers Weskoppies-rokkie, wasbleek, sonder enige grimering en met haar hare in 'n poniestert' haar 29ste verjaardag agter tralies in die Weskoppies-hospitaal vir psigiatriese pasiƫnte in Pretoria deurgebring. Lees die berig hier as jy wil. Ek het myne by die Rusty Keyhole in Kampot deurgebring met regte, egte Franse sjampanje, wat die restauranteienaar spesiaal vir my gaan koop het.
Op 'n ander punt: die selfoonnetwerk in Kambodja is maar swak, ek weet van heelparty mense wat die afgelope week of wat SMS'e vir my gestuur het wat ek nie ontvang het nie. As ek dus nie reageer op SMS'e nie, is dit omdat ek hulle nie kry nie.

Friday, September 08, 2006

Nuwe venue


Hierdie is 'n belangrike aankondiging vir diegene wat nou reeds in Phnom Penh is onderweg na my verjaarsdagparty. Die venue het verander. Ek gaan nou tuis in die Bokor Mountain Lodge (hierbo), in Kampot, die mees outentieke Franse-koloniale dorpie in Kambodja. Dis twee uur van Sihanoukville, deels met 'n grondpad/modderrige spoor.


Hier is kafee's soos hierdie op die rivieroewer waar jy baguettes en cafe au lait vir brekfis kan bestel.


Terwyl jy tonele soos hierdie oorkant die pad sien . . .


. . . of soos hierdie, in die pad.


En mense wat hou van vensters, of deure, sal nie teleurgestel wees nie.

Thursday, September 07, 2006

Blaas die toeter

Ek skryf hierdie met hande wat ligweg bewe: ek het vandag besluit om self 'n scooter te huur, eerder as die scooter-taxi's te gebruik, en, wel, dis vir my 'n heel nuwe ondervinding. Eerstens omdat ek nog nooit self 'n scooter gery het nie, maar dis gelukkig so maklik soos fietsry, maar tweedens omdat ek bietjie benoud was oor die Kambodjaanse bestuursgewoontes. Maar, when in Rome . . . Ek het nog nie eens weggetrek nie, toe begin ek al die toeter te gebruik, soos die locals, en dis verbasend watse gevoel van veiligheid dit gee. Hulle gebruik aanhoudend hul toeters, as waarskuwing dat jy op pad is, en dit werk ongetwyfeld. Dis eintlik die enigste padreel. En hou regs, meestal, soms, as jy lus is. Hier is nog 'n paar Sihanoukville-prentjies.


Iemand se drankie wat agtergebly het op die strand.


Sononder op Occheuteal-strand, dis die langste en gewildste strand hier. Daar is oral strandrestaurante, reg op die sand. Die Kambodjane swem met al hulle klere aan, hulle is 'n skamerige nasie.


Toonbeeld van weelde . . . My vreeslike kitsch hotelkamer. Om nie te praat van die olifantbeelde by die voordeur nie.

Wednesday, September 06, 2006

Huissoek


Ek het vandag verskeie huise bekyk in Sihanoukville. Ek het besluit dis die regte plek vir my gastehuis, dis 'n heerlike strandoord en besig om vinnig naam te maak. (Laat my baie aan Goa dink.) Daar is sover twee goeie kandidaathuise, hierdie een, in 'n stil straat, met ses slaapkamers, vir 'n allemintige $600 per maand. (Ek gebruik in al my Kambodja-posts die VSA-dollar as geldeenheid, dis wat hulle hier gebruik vir byna alle transaksies). Maar hierdie huis is nie in die beste posisie nie. Uitstekende sekerheid en die huis is perfek, byna geen werk nie. Pragtige tuin ook, en wonderlike balkon reg rondom.


Dis die straat voor die huis. Lekker stil, maar net minute per motorfiets na die hoofstraat of die strand. Die motorfiets op die foto staan voor die huis se hek. Die tweede huis het ek nie afgeneem nie, sal more. Dis $100 meer, maar het elf kamers en 'n FANTASTIESE see-uitsig van die dak af, wat 'n heerlike restaurant/lounge bar sal wees. MAAR daar is vreeslik baie werk wat aan die huis gedoen moet word. En dus baie geld wat ingestoot moet word in 'n huureiendom wat ek nie weer sal terugkry nie. Ek het darem baie tyd om te dink.


En dit is hoe die strand in die paradys lyk. Sihanoukville het vyf strande, almal kyk uit op onbewoonde eilande in die baai, en die seewater is louwarm. Hier kom die somer, sing Kerkorrel.

Vir die rekord

Ek maak nou soos Die Burger en vir vandag is ek 'n koerant van rekord. Want ek is nou in die tropiese paradys Sihanoukville en hierdie foto's voel nou heeltemal uit plek, maar ek plaas dit vir die rekord. Ek was nou die dag by die Tuol Sleng-museum in Phnom Penh, dis die Khmer Rouge se S21-tronk gewees, mense is lank daar aangehou en gemartel voordat hulle voor die voet uitgemoor is. Van so 1976 tot 1979 toe Vietnam Kambodja bevry het. Nou is die plek 'n baie eerie museum, dis ontsettend terneerdrukkend om daar rond te loop. Laaskeer was ek by die Killing Fields self (een van hulle) net buite Phnom Penh, maar ek het toe nie krag gehad vir Tuol Sleng nie. Hierdie keer sal ek ook net Tuol Sleng besoek, dis te erg eintlik. Die plek is regtig erg, daar is foto's wat die Khmer Rouge self geneem het van al die slagoffers (ook baie kinders, kyk hier onder) en vreeslik baie dokumente wat alles vertel wat daar gebeur het. Maar veral die foto's is woes, die mense se gesigsuitdrukkings in die aangesig van die dood. Party glimlag selfs, baie staar net voor hulle uit, maar die meeste lyk angsbevange. Want jy't geweet wat op jou wag in daai plek. Die tweedelaaste foto wys 'n 'galg' waar hulle mense onderstebo opgehang het, en hul koppe in emmers water gedompel het.





Tuesday, September 05, 2006

Legende

Ek blaai vanoggend so vinnig deur die SA koerante op die web en sien daar is byna geen nuus oor die dood van die legendariese Steve Irwin nie. Terwyl CNN op TV byna aanhoudend daaroor berig en dit die mees gelese artikel op CNN se webwerf is. Irwin was nogal 'n legende en ek dink bekend in omtrent elke huis ter wereld, hier in Kambodja kyk mense twee keer na die TV-skerms as sy gesig wys. Ek wonder hoekom die SA media dit grotendeels ignoreer.

Uitnodiging

Alle vriende van rondloper word hartlik uitgenooi na sy 35ste verjaardagviering te Sihanoukville, Kambodja, op 9 September (komende Saterdag). Dit sal 'n beach party wees. As julle more op die vliegtuig klim, van enige plek in die wereld, na Bangkok of Kuala Lumpur, dan is Phnom Penh net 'n uur verder van Bangkok of twee uur van KL, met goedkoop Air Asia, en Sihanoukville net drie uur verder per bus met Mekong Express, lekker cheap en vinnig. Verbly in Sihanoukville is beskikbaar in die Golden Sand Hotel (driester), waar ek bly, vir net $20 (R140) per aand (kamer met plek vir twee, as jy deel is dit dus net $10 elk), en dis oomblikke van die strand af. Of jy kan in vreeslik eenvoudige strandhutte bly vir so $4 (R28) per aand, met basiese geriewe. Ek kan nie aan 'n beter en goedkoper idee dink as om die naweek deur te bring nie. Ons kry mekaar by die Corner Bar op Victory Hill, vanwaar ons sononder oor die Golf van Thailand sal geniet, en dan sal ons afskuif na een van die kuierplekkies op die strand.

Sunday, September 03, 2006

Terug



Ek het vanoggend vroeg in Phnom Penh aangekom. Hoe anders as die vorige keer. Toe was dit uit die lug 'n klein stadjie in 'n groot, droe" vlakte, hierdie keer is dit 'n klein stadjie wat net so hier en daar uitsteek in 'n massiewe dam water. Dis nou moesontyd en uit die vliegtuig was daar net water so ver soos die oog kan sien, paaie toe onder die water en selfs hier en daar huise wat lyk asof hulle op hul eie klein eilandjie staan. Nogal baie indrukwekkend uit die lug uit. Dit lyk asof die stad skielik verswelg is deur al die water, maar natuurlik is dit nie so nie. Ek dink dit lyk elke jaar so. En die stad is vir my selfs meer eksoties as voorheen, ek staan weer verstom deur die vermenging van die Franse/Khmer- en selfs bietjie Indiese invloede. Daar is ook hierdie keer veel meer reuke van blomme, iets wat ruik soos frangipani's, in die lug. Die luggie is effe koeler as laas, daar is so 'n ligte briesie wat waai en dit is net te wonderlik, luilekker tropiese atmosfeer. En die derduisende motorfietsryers sonder helmets jaag steeds in elke denkbare rigting sonder om te stop vir enigiemand. Maar dit werk, lyk nie of enigiemand mekaar raakry nie. Ek het vanmiddag langs die Mekongrivier, in 'n Franse restaurantjie, iets gaan eet - cafe latte en 'n baguette. Vanaand sal ek weer Khmer kos probeer. O, ja, dis net so goedkoop soos ek onthou, 'n pakkie sigarette was 50c (Amerikaans), dus omtrent R3,50? Sekerlik vervals, soos baie dinge hier. Maar die ongekende optimisme en lewenslus hier is wat ek onthou, en is hoekom ek graag wou terugkom.

Friday, September 01, 2006

Dit raak net beter


Die uitsig van my hotelkamer oor die Chao Praya-rivier. Dis moesontyd en die donker wolke voorspel swaar reen.


En as jy reguit af kyk, kan jy na al die mense in die swembad kyk. Daai terrassie wat so oor die rivier hang, is 'n plekkie waar mens kan gaan eet. Bo links is die hotel se riviertaxi op pad om vas te meer.

Ek voel, aangesien ek nou al op vorige geleenthede so tekere gegaan het oor Bangkok, moet ek nou maar vir die tweede keer erken ek was dalk verkeerd. My eerste twee besoeke hier het die plek my glad nie aangestaan nie. Wat my mening meestal beinvloed het, was die aaklige, bruin besoedelingswolk wat soms oor die stad hang, op straat voel jy of jy nie kan asemhaal nie. Maar met al my besoeke daarna (vandag is die derde of vierde keer) was (is) die lug skoon, helderblou. En die stad voel net vir my al nicer. Ek is te moeg om vandag rond te loop en foto's te neem, maar hierbo is twee sommer so van my hotelkamer se venster. Ek het hierdie keer op 'n ander hotel besluit (ek bly deesdae altyd eerder in hotelle of gastehuise nadat ek uitgevind het as jy op die internet bespreek, kos dit dikwels regtig nie veel meer as 'n enkelkamer in die sogenaamde backpackers-plekke waar jy net die mees basiese geriewe kry nie.) Hierdie keer is my hotel langs die Chao Praya-rivier, wat deur Bangkok kronkel en wemel van lewe. Ek het 'n uitsig op die rivier. Wonderlik. En as ek iewers heen wil gaan, gebruik ek die hotel se gratis riviertaxi om na die Skytrain se stasie of ander plekke te vaar. Ja, Bangkok, is eintlik lekker. Nie mooi nie, maar baie interessant en vol lewe. Dit wys jou net, mens kan nie eintlik 'n mening oor 'n plek vorm as jy net een keer daar was en die eerste keer dalk nie so lekker was nie. Ek bly twee dae hier oor voordat ek Kambodja toe gaan.

Dis my geheim

Ek wil drie geheimpies met my lesers deel oor Dubai-lughawe. Ek vlieg graag met Emirates omdat hulle baie billik is, en na my mening die naasbeste lugdiens van die (sowat) 29 lugdienste is waarmee ek al gevlieg het (ja, ek spog!) en natuurlik omdat ek Voyager-myle op hulle verdien. Dus aanvaar ek soms die effense ongerief om in Dubai oor te stap na 'n volgende vliegtuig en soms daar te wag vir 'n paar uur. Maar hier is die geheimpies, eksklusief hier op rondloper! Diegene wat al op Dubai se lughawe was, weet die plek het nou al te klein geword vir al die mense, want Emirates het so baie vlugte en hulle is amper altyd propvol, dus is daar letterlik duisende mense op een slag wat meeding om 'n plekkie in die son. Daar is glad nie meer genoeg toilette nie. Behalwe by die lughawehotel se koffiekroeg, en byna niemand weet blykbaar daarvan nie. Die pryse is dieselfde as by enige van die ander eetplekke op die lughawe, MAAR jy het plek vir jouself. Daar is byna nooit mense nie, en jy kan selfs heerlik op die rusbanke slaap totdat die son opkom, maar as die son opkom maak hulle jou wakker. En jy kry vyfsterdiens in teenstelling met die gewone restaurante onder waar die gepeupel uithang, waar jy net 'n nommer is. Jy hoef nie in die hotel te bly nie, maar jy kan die koffiekroeg/lounge gebruik. Dis binne in die lughawe, waar al die oorstap-passasiers so 'n entjie ondertoe vuisslaan om 'n sitplekkie. Alles nog in die 'transit'-gebied. Volg net die bordjies na die 'Transit Hotel'. Dis waar ek vanoggend gerus het na my vlug van Johannesburg. Dit was geheim nommer een. Geheim nommer twee hou daarmee verband. In dieselfde omgewing, daar by die hotel, is 'n sauna en storte, en 'n GROOT borrelbad, ook oop vir enigiemand. Jy betaal wel 'n paar dollar, maar dis baie min. My oorstaptyd was hierdie keer te kort om dit te gebruik, maar die terugtog kom nog. Net reg om jouself te lawe tussen vlugte. En geheim nommer drie, as jy langer as drie uur moet wag vir jou volgende vlug (op Emirates) kry jy 'n gratis ete (groot en lekker) in die Emirates Transit Lounge. Wys net jou boarding pass. Dankie, Andre, volgende keer gaan ons oorsese reise met Emirates soveel lekkerder wees! Wel, die van ons wat soos gewone aardlinge in ekonomiese klas vlieg en nie deur ons maatskappye geborg word nie. Maar selfs vir ons is daar vreugdes!