'n Pelgrim voor die Jokhang-tempel in Lhasa. Ek het uitgevind hoekom dit die heiligste plek in Tibet is - daar is 'n afbeelding van die Boeddha binne wat glo deur die Boeddha self geseen is voordat dit daar neergesit is.Ek het my tot dusver weerhou van enige politieke kommentaar oor Tibet, net omdat ek nie eintlik enigiets geweet het van wat hier aangaan nie, maar nou gaan ek 'n paar dinge se^. Dis more my laaste dag in Tibet, die Chinese geheime polisie lees in elk geval seker nie my blog nie. Ek het voorheen geen idee gehad van wat regtig hier aan die gebeur is nie. Dis algemene kennis dat Tibet 'n besette land is, hier is geen politieke vryheid nie (selfs minder as in China, dis tog moontlik), en die mense leef in vrees om enigsins in die openbaar hul afkeer in die Chinese besetting uit te spreek.
Ek het gisteraand in 'n redelik boheemse kuierplekkie gaan sit, almal daar was Tibettane wat later nie meer bang was om te praat nie. (Seker ook maar die bier wat gehelp het.) In kort, hulle weet hulle kan nie enigiets doen teen China nie, hulle weet as hulle in die openbaar kla, gaan hulle waarskynlik verdwyn. Die een ou het gese^ hy het 'n vrou en kind, hy is verantwoordelik vir hulle. Al maak dit hom hartseer, is daar niks wat hy kan doen nie. Hy't gese^ hy het nie 'n probleem met die Chinese wat hier woon nie, maar wel met die Chinese regering. Hy het gese^ mense wil almal maar net 'n lewe maak, dis hoekom baie Chinese hierheen kom.
Maar die Chinese is besig om Lhasa te verinneweer. Oral word blink nuwe winkelsentrums gebou, die ou deel van die stad, die oorspronklike Tibettaanse deel, kom al meer in die spervuur en wie weet hoe lank dit nog sal bly staan.
Die Chinese bou en bou, dit pas nie eens in in Lhasa nie. Maar dis natuurlik deel van die besettingsplan, hoe meer Chinese hier bly, hoe groter die Chinese invloed, hoe minder is die kans dat Tibet ooit sy vryheid sal kry.
Die westelike deel van Lhasa is al uit en uit 'n Chinese stad. Daar is niks eg Tibettaans daaraan nie. Volgens die mense van gisteraand (ek noem doelbewus nie hul name nie) het hulle nie al die Chinese geboue en dinge nodig nie. En veral nie die nuwe trein nie. Dis net nog 'n poging om China se houvas te versterk.
'n Ander ou gisteraand het vir 'n Chinese reisagentskap gewerk, maar hulle het hom later laat gaan, glo omdat hy voorheen 'n uitgewekene in Indie was en die nuwe baas hom nie vertrou het nie. China laat net 'groepe' toe om Tibet te besoek (daar is maniere, dis hoe ek op my eie hier uitgekom het) en die groepe kom onder die vaandel van die Chinese amptelike reisagentskap hier aan, en sien dus alles deur die Chinese bril. Kyk hoe goed is ons vir hulle . . .
Nou wat my persoonlik nogal pla, is die feit dat die hele ganse wereld oor hul voete val om in China te bele^. Om te kom geld maak hier. Die Chinese regering en sy amptenare ry net met Audi A8's rond (mens sien dit nogal, oral ry pikswart Audi's met donker vensters rond). Ook Volkswagen is oral te sien. My vraag is, is dit moreel regverdigbaar. Is daar enigsins nog moraliteit in die wereld oor. Tibet is nie die enigste klag teen China nie, almal weet hier word elke jaar meer as 10 000 mense doodgeskiet (tereggestel), sommige meen dis meer as 20 000. Dikwels sommer op die eerste dag van die hofsitting, sommer dadelik daarna. Politieke andersdenkendes word aangehou en gemartel, die Falun Gong-mense word gemartel, tereggesteldes se organe word gebruik vir oorplantings op ryk Japannese toeriste . . . En dan is maatskappye soos Google heeltemal gewillig om homself te sensor sodat hy darem in China kan sake doen. Dis vir my 'n hartseer saak, die wereld gee nie eintlik om vir enigeen nie of enigiets nie, solank hulle net geld maak.