Tuesday, February 28, 2006

Kerk en samelewing


Samoa is 'n diep gelowige land. Soveel so dat die plek waar ek die eerste twee dae hier in Apia gebly het toe ek laasweek aangekom het, nie op Sondae die kamers skoongemaak het nie. Daar was 'n briefie in my kamer dat Sondae in Samoa baie heilig is, en dus lewer hulle geen dienste op Sondae nie. Amper elke vorm van die Christelike geloof wat jy aan kan dink is in Samoa. Aan die seefront is daar vreeslik baie kerkgeboue, van die Katolieke katedraal tot allerhande Protestantse kerke. Hier is ook 'n groot Mormoonse teenwoordigheid, asook Jehovas-getuies, Sewendedag-adventiste en andere. Ek het gister bietjie deur Apia geloop en 'n paar Sondagfoto's geneem.


Baie van die mense dra spierwit klere vir die Sondag. Die mans dra rokke, ook as hul gewone drag in die week. En kinders sal mos maar altyd glimlag vir 'n foto.


Die Katolieke katedraal aan die seefront.


Dis die Mormoonse Tempel. Dit lyk soos 'n casino.

Samoa is klein

Ek het gister weer hier in Apia aangekom, ek moes al in Fiji gewees het, maar ek het besluit ek gaan Fiji heeltemal los, ek geniet Samoa te veel, ek bly nou bietjie langer hier. Ek sou in elkgeval net 'n paar dae in Fiji gewees het, ek bly eerder langer hier. Ek moet op 2 Maart weer in Auckland wees vir my vlug na Bangkok. Andersins het ek waarskynlik maande lank hier in Samoa gebly. Maar daar is plekke om te sien en dinge om te doen! Hier is nog 'n paar beelde van Apia.


Dit is Neil van Engeland en Ake van Virgin Cove (meer daaroor in die post Paradise Found net na die volgende post oor Capote). Neil bly nog by Virgin Cove maar hulle het vandag in Apia kom inkopies doen toe loop ons mekaar raak, die plek is regtig klein, en geniet 'n lekker middagete by McDonalds van alle plekke.


Dis al wat oorgebly het van die Duitse teenwoordigheid in Samoa. Dit was in die 1900's 'n Duitse kolonie en hierdie is die plek waar die Duitsers hul vlag gehys en Samoa geannekseer het.


Aggie Grey's - 'n hotel aan die seefront wat in die Tweede Wereldoorlog 'n 'house of ill repute' was. Aggie Grey was een van die werknemers van genoemde huis. Nou is dit 'n luukse hotel.

Capote en die maan


Ek wou al lankal iets hieroor skryf: Ek het die laaste dag in Auckland die fliek Capote gaan kyk. Dit het my vreeslik ontstel. En toe hier in Samoa het ek The Moon and Sixpence van W. Somerset Maugham gelees - hy het baie van sy werke hier op Polinesiese eilande laat afspeel en ek het gedink dit sal interessant wees. Albei die werke gaan oor kunstenaars en wat hulle doen om iets te skep, wat hulle doen in hul soeke na die beste/mooiste werk. Capote het my ontstel, want volgens die fliek (en ek het ook 'n koerantartikel daaroor gelees en blykbaar is dit grotendeels op die waarheid gebaseer) was hy 'n koue manipuleerder wat letterlik op die laaste sy hulp aan die moordenaar, wat hy so bevriend het, teruggehou het sodat die ou gehang word dat hy sy boek kan klaar skryf en vreeslik beroemd raak. Is dit nodig om so harteloos te wees om kuns te skep? In Maugham se boek (wat wonderlik was, ek is bly ek het hom ontdek) is dit soortgelyk - die hoofkarakter (gebaseer op Gauguin) maar genaamd Strickland, los sy vrou en kinders ewe skielik sonder geld of enigiets, om te gaan skilder. Hy is koud en harteloos en sonder gevoel, maar tog het hy gevoel. Dis 'n baie dieper weergawe van die mens se stryd om te skep en bloot te leef waar jy gelukkig is as Capote en was iets wat my meer laat dink het as Capote wat my bloot ontstel het.
Ek het ook met die baie tyd tot my beskikking gelees: Treasure Island van Robert Louis Stephenson, bloot omdat sy huis hier op Samoa is en ek darem iets van hom wou lees voordat ek na die huis gaan kyk. Dit was sommer net 'n lekker avontuurverhaal, niks spesiaal nie. En dan het ek Midnight Cowboy gelees, dit was nogal goed, gaan oor die mens se alewige soeke na, noem dit nou maar 'liefde', maar eintlik net aanvaarding.

Paradise Found


Hier sit ons op die dek by Virgin Cove en wag vir aandete. Hierdie groepie verteenwoordig van links Kalifornie, Engeland, SA, en Duitsland. Hulle het my Mr Jeopardy genoem toe ons Trivial Pursuit gespeel het.


Dit is die 'string band' wat ons saans 'geserenade' het. Dit was heerlik, hulle het goeters soos Elvis Presley se Always on my Mind in Samoaans gesing.


Hierdie was vir 'n week lank my woning. Dis heeltemal oop, daar is nie mure nie, net bamboesskerms as jy privaatheid soek. En jy slaap op die vloer. En die see is net oorkant.


Net oorkant my strandhut het ek hierdie uitsig gehad.


Dit is die voetpad deur die reenwoud na die 'badkamergeriewe'


'n Lekker Afrika-styl longdrop met 'n uitsig.


Die kleinste spinnekop in die hele wereld woon in Samoa. Hier is hy. Kyk regs onder op my hand, net onder die are, is 'n swart spikkel. Dis hy.

Ek is terug! Jammer vir die langerige stilte hier, ek was die grootste deel van laasweek by 'n plek genaamd Virgin Cove aan die suidkus van Samoa, sowat 'n uur van Apia, sonder internet of enige moderne geriewe. Dit was die paradys! Jy ry eers oor 'n berg, verby reusagtige banyan-bome (hulle lyk soos kremetartbome, net groen), deur reusagtige kokosneutplantasies, verby tradisionele Samoaanse huise en dan oor 'n baie slegte grondpad tot by die plek. Daar het ek vir vyf dae in 'n houthut reg op die strand gebly, in die Samoaanse styl. Daar is geen mure nie, net skerms van bamboes wat jy kan aftrek as jy wil - saans. Maar dis ook nie regtig nodig nie, want dis soos natuurlike lugreeling, as jy die skerms ooplos, dan is die hut lekker koel. Daar was net 'n paar mense, maar dit was heerlik, dis die soort plek waar jy net kan verdwyn as jy wil. Hulle het elke aand 'n groot bankettafel gedek, en dan het almal saam geeet en gekuier. Ek het wonderlike mense daar ontmoet en die dae het net so stadig verbygedraal. Ons het op 'n kano rondgevaar, elke dag 'n paar keer in die soel water gaan swem, gesit en boeklees en gekoes vir die kokosneute. Dis nou die tyd van die jaar wanneer die kokosneute vanself uit die bome val as hulle nie gepluk word nie, en so 'n kokosneut kan jou doodval. Daar was ook elke aand 'n Samoaanse 'band' wat kitaarmusiek gespeel het terwyl ons geeet het.
Ek het drie dinge daar geleer:
1. Die Swede dink hulle land is kommunisties.
2. Ek kan nou die verskil tussen die Amerikaanse en Kanadese aksent herken.
3. Die paradys is in Samoa en die lewe is wonderlik.

Wednesday, February 22, 2006

En dit was stil

Ek het heerlik ingeval by die tropiese pas van die lewe hier in Samoa. Dit is so ongelooflik warm, 'n mens het nie baie energie nie, maar ek het darem nou al Apia behoorlik verken (dis maar 'n klein plekkie), vreeslik baie Samoane ontmoet wat almal baie opgewonde is as hulle hoor ek is van SA en dan net wil rugby gesels, en gister vir die eerste keer op (oor?) 'n koraalrif gaan swem.
Ek gaan vir die volgende paar dae op 'n heerlike Polinesiese strand le^ en kokosneutmelk drink, daar is geen internet daar nie, so die blog gaan vir 'n paar dae bietjie stil wees.
Hier is 'n seepark by Apia, die Palolo Deep National Marine Reserve, dis die eerste keer wat ek 'n koraalrif bekyk het.
Dis nogal freaky aanvanklik, ek het snorkel, duikmasker en paddavoete gehuur en dan swem jy so amper 100m uit in die see in, tot by die rif. Daar's n paal wat wys waar dit is. As jy eers daar aankom, is die rif eintlik baie vlak, en dis net helderkleurige tropiese visse, skole van die goed, waar jy kyk. En die koraal beweeg soos die seestrome beweeg - ek moet bieg ek was effe senuweeagtig toe ek so die eerste keer sien wat onder die see aangaan. Die water is glashelder en heerlik lou, so dis 'n ongelooflike ondervinding. Maar die 'Deep' van die naam dui op 'n onderwaterkloof, wat beteken ewe skielik verdwyn die koraalrif in hierdie ongelooflike diep, donker gat. Dit was bietjie te veel vir my, asof die grond onder jou voete uitgeruk word.

Tuesday, February 21, 2006

Selfoon

Hierdie is net 'n nota vir sommige van my getroue lesers wat soms SMS'e stuur: ek het geen selfoonontvangs hier in Samoa nie, en sal waarskynlik eers oor so twee weke, wanneer ek in Asie" aankom, weer selfoonontvangs he^.

Sunday, February 19, 2006

Treasure Island


Heel waarskynlik een van die min internasionale lughawens in die wereld wat nie mure het nie. Dis in die tradisionale styl gebou en is eintlik maar net 'n dak op pilare. Sangers met kitare verwelkom nuwe aankomelinge.


Die lughawebus wat die pad vol slaggate na die middedorp aangedurf het.


En hierdie tekens wys min of meer waar in die wereld Samoa hom bevind.

Ek is bly om aan te kondig dat daar oorweldigende belangstelling in my kompetisie was, amper net so veel as in Die Burger se Pryslyn, en as 'n poging om sirkulasie te verhoog was dit uiters suksesvol. Yeah, right. In elk geval, die een mens wat deelgeneem het, was min of meer in die regte rigting, maar nie die regte plek nie. Ek is in Samoa.

Timewarp

Ek weet almal wil nog altyd geweet het hoe lyk dit in Apia, wel hier is nou 'n paar foto's van die plek. Ek is in Samoa, 'n Polinesiese eiland sowat 3000 km noord van Nieu-Seeland en net 5000 km suidwes van Hawaii. Maar, snaaks genoeg, is ek minder as 'n paar honderd kilometer van Amerika, want Samoa is twee lande, en die een deel is Amerikaans, met George Bush as president en die dollar as geldeenheid en dit word bestuur as 'n oorsese gebied van Amerika. Samoa waar ek is, interessant genoeg, was eens 'n Duitse kolonie, hier in die middel van die Stille Oseaan so ver van alles. Maar hier volg die weirdste van alles: Samoa is net-net aan die anderkant van die internasionale datumlyn. Ek het Saterdagaand tienuur die aand van Auckland hierheen gevlieg, toe ek hier land, vier uur later, was dit twee uur die oggend (Sondagoggend) in Auckland, en ook twee uur die oggend in Samoa, maar Saterdagoggend. Ek het dus twee Saterdae gehad hierdie week, sonder dat ek dae lank gevlieg het daarvoor. Dit voel vir my asof dit vandag Sondag is, want in my kop is dit Sondag in Nieu-Seeland en ek het gister klaar 'n hele Saterdag beleef. Maar vanoggend toe begin Saterdag weer van voor af . . . Nou wonder ek of ek ouer of jonger is?


Sopnatgesweet in die hawe in Apia. Die foto is vandag (of is dit gister, of dalk more?) geneem.


Een van die kleurvolle busse in Samoa. Die busse het geens vensters nie - natuurlike lugreeling.


Die kern van Apia, Samoa se grootste dorp. Dit is die kloktoring.

Alle goeie (en slegte) dinge kom tot 'n einde


Die laaste dag in Auckland. Dit was Saterdag en daar was 'n klomp betogings, onder meer deur hierdie flinke jong mense teen hul lae lone by Starbucks. Daar was ook betogings teen die kommuniste in China.


Dit is Lyttelton net buite Christchurch. Wonderlike hawedorpie, het my baie aan Kalkbaai laat dink.


Sommer net 'n mooi ligtoring in Akaroa.


Ek en Marc bokant Akaroa, waar mens wonderlike uitsigte oor die omgewing het.

Ek het gister Nieu-Seeland verlaat na vyf weke daar - dit was goed en lekker maar dis nou klaar. En ek is bly dis nou klaar, ek bedoel dit regtig nie lelik nie, maar dit was nie vir my 'n plek met 'n goeie vibe nie. Soos ek al male sonder tal gese het, die land is pragtig, en ek het wonderlike dinge gedoen - die gletser, die dolfyne, Christchurch is 'n wonderlike stad, so-ook Dunedin, ek het goeie mense ontmoet, maar dis nie my soort plek nie. (Daar was Saterdagaand 'n program op TV van Australie, Rove Live, dis Australies en speel Dinsdae in Australie. Aan die begin het 'n spul pomp-pom girls in rooi gesing oor hoe vervelig 'n Dinsdagaand in Australie is (dus moet jy maar die program kyk), want Maandag herstel jy van die naweek, Woensdag begin jy voorberei vir die naweek, Donderdag begin die naweek ens, maar Dinsdag gebeur niks, en toe sing hulle: And if you are watching in New Zealand, well every day of the week is boring for you.) Waar ek nou is, is meer my soort plek. Hierbo is nog so vir oulaas 'n paar foto's van NS, ek en Marc, die ou by wie ek in Christchurch gebly het, het een dag na 'n plek met die naam Akaroa gery, iewers in die 1800's het 'n spul Franse setlaars daar aangekom om NS Frans te maak, maar die Engelse het hulle voorgespring. Party van die Franse het daar agtergebly, nou is die plek 'n gewilde vakansie-oord vol Franse vlae en Franse kos en nouveau riches. My laaste dag in Auckland was net 'n rustige rondloopdag en ek het die aand laat gevlieg.

Thursday, February 16, 2006

Beweging


Dit is my reis - altyd op pad. Hierdie is van die trein tussen Kaikoura en Christchurch. Dis skape in die agtergrond.


En dit is ek op dieselfde trein, in die uitsig-treinwa (daar is nie vensters nie en jy kan lekker foto's daar neem).

In die hemel


Vroegoggend op die Stille Oseaan, naby Kaikoura.


Eerste lig van die 14de Februarie vir die hele ganse wereld, die begin van die dag.


En dit is hoe hulle lyk, ons het dit gesien en veel meer. Hierdie is nie my foto nie. Dit is dusky doplhins, weet nie wat die Afrikaans is nie. Daar is van hulle in SA ook.


Ek onder die water. Dis 'n copy van 'n gewone foto met my onderwaterkamera geneem.


En so naby kom hulle aan jou. Dis ook 'n copy van 'n foto van die onderwaterkamera. Die ander foto's wys ongelukkig net see, want ek het nie deur die viewfinder gekyk nie, ek het sommer net geneem. Dis bietjie moeilik met die duikbril, die snorkel, die swaar wetsuit en die vinnige bewegings.

Eergister was die groot dag - swem saam met die dolfyne. Hulle vat nie meer as 15 mense op 'n slag nie uit op 'n boot, jy kry 'n wetsuit, duikbril, snorkel en dan vaar jy ver uit in die see op soek na die dolfyne. Mens moet baie lank voor die tyd plek bespreek, want net 'n klein groepie mag elke dag swem. Ons het die oggend 5:30 vertrek, die son sien opkom oor die Stille Oseaan, die eerste lig van daardie dag in die hele ganse wereld aanskou (NS is mos net duskant die internasionale datumlyn en sien altyd eerste lig, behalwe vir een of twee klein eilande), en toe kom ons af op sowat 200 dolfyne, wat ons letterlik verwelkom het deur om en om die boot te swem en die hele tyd te spring. Ek kon nie baie goeie foto's neem nie, het 'n onderwaterkamera (weggooibaar) gekoop, maar ongelukkig was daar net blou see op die meeste van die foto's, want hulle swem vreeslik vinnig. Maar dit was ongelooflik, hulle kyk jou reguit in die oe" en swem om en om en jy probeer byhou, want as jy nie byhou nie, raak hulle verveeld en swem weg. Maar ek is mos 'n sterk swemmer, so ek het heerlik geswem, om en om en afgeduik en hulle volg jou, elke keer kom een of twee wat van jou hou, en dan speel hulle met jou totdat jy uitasem is. Hulle is so naby jy kan aan hulle vat, en dit voel soms of hulle in jou gaan vasswem. En soms as jy weer kyk, dan is hulle langs jou, en onder jou, en oral. Ons was so 40 minute in die water en dit was regtig groots. Hulle is regtig spelerig, nie bang nie, en baie nuuskierig om te kyk wat jy doen.

Wednesday, February 15, 2006

Boekklub


Hoe lank is ek nou al in Nieu-Seeland en nog nie eens die tydstelling op my blog reggemaak nie. Wel, minstens vir die laaste paar dae wys my posts nou die tyd hier en nie meer die tyd in SA nie.
Ek het pas The Shipping News (Annie Proulx) klaar gelees. Wonderlike boek! Ek het nooit die film gesien nie, maar boeke is altyd beter. Dit gaan oor hierdie ou wat net absoluut geen sukses in die lewe het nie en eindelik, nadat sy vrou (wat hom die hele tyd verneuk met ander mans) in 'n motorongeluk dood is, vlug hy Newfoundland toe. Die beskrywings van die lewe daar is so goed, ek is sommer lus om soontoe te gaan. Maar dis baie kouer as Sutherland. Daar is ysberge wat in die hawe ronddryf. En dan, in Newfoundland, begin allerhande dinge gebeur met ons hoofkarakter, dis asof dinge in plek val, amper sonder dat hy dit besef, in hierdie plek vol eienaardige mense en eienaardige gebeure.

Kompetisie! Wen groot pryse!

Ek is jammer ek het nog nie my foto's en storie van die dolfynswem gelaai nie (ek sweef nog in 'n ander wereld rond na die ondervinding . . . ) Nee, hier op Kaikoura is net een internetkafee en dis nou weer een van daai simpel plekke waar jy nie jou foto's kan aflaai nie. So dit sal nog moet wag tot Christchurch.
MAAR: Intussen kondig ek nou 'n kompetisie hier af. Die prys is 'n vakansie saam met my iewers in Afrika! Hoe lekker. En die vraag is: Ek vertrek Saterdag na twee lande wat nie alte bekend in SA is nie, selfs ek, geografiese wereldkampioen, weet nie veel van minstens een van die lande nie. Dus, om te kwalifiseer vir die prys moet julle raai waarheen ek gaan.
Hier is drie wenke: Die een land het baie te doen met 'n bekende skywer, die ander land nie. Die een land is verdeeld, die ander een nie. Die een land het te doen met tyd, die ander een nie. (Hulle is relatief naby aan mekaar). Maar om die prys te wen moet die antwoord nie net die lande se name wees nie, ook die antwoorde op die wenke!
En die antwoord sal Sondag, of is dit nou Saterdag, aangekondig word.

Monday, February 13, 2006

Die trein

Ek het vandag per trein van Christchurch na Kaikoura gery, dit is die Hermanus van Nieu-Seeland, hier is walvisse en dolfyne en robbe. Die Kiwi's weet darem hoe om toeriste se beursies leeg te maak, ons kan gerus 'n paar lesse by hulle leer (oor hoe om dit nie te doen nie). As ek darem dink wat ons in SA kan sien (vat sommer net robbe, sommer daar in die Kaapse waterfront). Hier betaal unsuspecting toeriste honderde rande (en NS dollars) om dalk een rob te sien. Ek dink aan toe ek by die Farewell Spit was, die toerbusbestuurder het met groot fanfare gestop om vir ons EEN rob te wys wat op die strand le^. Die spul toeriste het uitgespring en tekere gegaan asof dit die Messias self is. Die probleem hier is dat jy soms nie kan onderskei tussen wat is regtig die moeite werd en wat is sommer 'n klugspel nie, want letterlik alles word bemark as die beste in die we^reld. Ek dink weer vandag hieraan omdat toe ek van die trein afklim, het ek by 'n koffiekroeg 'n Oostenrykse vrou ontmoet, sy was sommer suur vir die Kiwi's en begin toe met my praat - en dis toe presies waaroor sy ook kla. Daar IS wonderlike dinge, soos die gletser, en my dolfynswem van mo^re (hoop ek), maar verder is daar maar 'n groot mate van uitbuiting dink ek.
Gesprek op die trein vandag afgehoor. Langs my sit drie GROOT Britse vroue.
Groot vrou 1: Look, a seal!
GV2: Where?
GV1: THERE!
GV2: Oh, YEAH!
GV1: Yeah!
GV3: Yeah.
GV1: Yeah!
GV2: Yeah.
GV3: Yeah . . .
GV1: Yeah . . .

Diep water

As enigiemand vir my 'n Valentynsboodskap wil stuur, my adres is:
The Lazy Shag (ja, regtig)
37 Beach Road
Kaikoura
Nieu-Seeland
Maar dit sal 'n telegram moet wees, want ek is net twee dae hier. Aan die ander kant, teen die tyd wat hierdie boodskap in SA gelees word, is dit al 'n dag later hier, so los dit eerder. Ek gaan Valentynsdag in die see tussen 300 dolfyne deurbring (uiteindelik). Die vorige probeerslag het misluk, maar hierdie keer sal dit nie.

Sunday, February 12, 2006

Down by the river

Dunedin word genoem die mees Skotse stad van Nieu-Seeland, en Christchurch, waar ek nou is, die mees Engelse stad. Die Avon-rivier vloei deur die stad, met mans wat mense op platboomskuite met pale rondstoot deur die water, hier is baie eikebome en mooi, ou geboue, en die ou kampus van die Canterbury-universiteit lyk asof dit netso uit Cambridge of Oxford hierheen verplaas is. Saans is die strate 'n mallemeule van mense, byna almal papdronk en erg jonk (die Kiwi's is wraggies lief vir hul drank). Vandag (Sondag) was daar 'n blaasorkes in die park, vlooimark, en mense wat op die rivieroewers sit of le^ en die vreeslike 'gentle' atmosfeer van die warm Sondagmiddag geniet.


Ek en Marc geniet 'n drankie op die 'Strip', Christchurch se restaurantstrook langs die Avon-rivier.


Dit was gister (soos almal seker weet) die openingsdag van die Super 14-reeks en die Crusaders, die reuse van die reeks, kom hier van Christchurch af. Hulle het gister teen die Highlanders, van Dunedin, gespeel. Hier in Christchurch. Ek het nie die wedstryd gesien nie, maar ek kon dit hoor, en na die tyd kon ek die ondersteuners sien. Hier is van hulle.


Die Millennium-monument op Cathedral Square.


In 'n koffiekroeg wat net vegetariese kos bedien. In High Street.

Die wereld is 'n vreemde plek


Gesien langs die pad by 'n busstasie in Timaru, Suideiland. Tui is 'n bier.


Hierdie is Koningin Elizabeth se corgi's - op straat in Christchurch. Die stad van Christchurch het (na bewering) ter ere van die queen se verjaardag hierdie beeldjies van die honde laat maak en hulle staan nou op 'n sypaadjie in High Street. Die een heel agter lek 'n roomys.

Wereldnuustyd

Hier is weer twee beriggies uit die Nieu-Seelandse media wat die laaste paar dae my aandag getrek het.

Jackson offers shamed Tamahori support
Samuel L Jackson has become the latest celebrity to stand up for shamed New Zealand movie-maker Lee Tamahori, who was arrested for posing as a drag prostitute in Los Angeles last month.
The actor worked with the Die Another Day filmmaker on XXX: State Of The Union and insists the scandal surrounding Tamahori should do nothing to weaken his position as a top director.
Jackson says: "Nobody got hurt and that's the important thing. Guys are guys and people are people.
"If Brokeback Mountain can be the best movie of the year then that means Lee can continue to direct as long as he wants to."
(Tamhori het Once Were Warriors ook gemaak)

Die volgende een is my verkorte weergawe, ek kry nie die oorspronklike op die internet nie
'n Vrou van 'n klein dorpie buite Auckland het gesterf nadat sy voor 'n kar ingehardloop het in 'n poging om haar hondjie te red.
Sy het die voorhek oopgemaak en die hond het dadelik uitgehardloop. Die vrou, wat baie lief is vir die hond (volgens haar bure) is agterna om te keer dat 'n kar die hond tref.
Maar toe is sy deur 'n kar getref en het op die toneel gesterf.
Die hondjie, 'n miniatuur-poedel, is nog nie weer gesien na die insident nie.

Friday, February 10, 2006

Lang wag


Ek het gisteraand uiteindelik Brokeback Mountain gesien, 'n fliek waarna ek baie uitgesien het. Dit het gister hier in Nieu-Seeland begin. Ek het lank gelede die storie gelees en dit het my nogal regtig geraak. Ek het baie uitgesien na die fliek, maar ek gaan nie enige kommentaar lewer nie - gaan sien dit liewer self. Ek vergelyk dit dalk 'n bietjie te veel met die storie. Ek moet byvoeg dat ek met my sensitiewe sieletjie myself nogal goed gedra het in die fliek (dis onteenseglik deels 'n hartseer storie), maar daar het nie een traan oor my wange gerol nie - tot die heel laaste toneel, toe bars die dam 'n bietjie. Net 'n klein bietjie, want toe kom die ligte aan.


En hierdie is een van die vreeslik baie skewe geboue in Dunedin.

Dit dreun in Dunedin


Daar is hierdie naweek 'n groot Harley Davidson-saamtrek hier in Dunedin, dit maak nie saak waar jy op straat is, of waar jy bly nie, jy loop jou vas in hierdie vriendelike mense met hulle blink motorfietse. Jy hoor hulle ook van ver af. Dunedin dreun!


Die skoorstene wat ek van my backpackers-plek af kan sien. Ek het nog altyd gehou van skoorstene en dakke.


Dis Dunedin-stasie. Daar is baie sulke geboue in die stad. Dis een van daai plekke waar 'n mens sommer net ronddwaal, nie regtig moeite doen om na dinge te gaan kyk nie, want dis oral om jou. Jy geniet bloot die atmosfeer en die mense.

Thursday, February 09, 2006

Op die rotse


My nuwe vriend Marc van Christchurch het vir my hierdie foto aangestuur. Hy het dit geneem op die strand by Pohara, naby Takaka, waar ek so paar dae gelede was. Die ou op die foto is David van Boston, hy werk vir die Massachussetts-landboudepartement. Die foto is later in die dag geneem, toe dit begin afkoel het. NS is meestal heerlik warm, maar saans raak dit sommer net ewe skielik vreeslik koud, meestal moet mens truie of baadjies aantrek. Marc en David het in dieselfde backpackers as ek gebly. Die naweek gaan Marc toergids speel wanneer ek Christchurch toe gaan, hy wil my vreeslik graag rondwys en maak net planne.

Wednesday, February 08, 2006

Cowspotting


Ek het van Christchurch tot in Dunedin langs hierdie propeller gesit en het beelde in my kop gesien van hoe die propeller afbreek en my in twee sny. Maar toe besef ek dan sou die vliegtuig in elk geval geval het en dit sou dan nie saak maak nie.


Dunedin-lughawe se parkeerterrein. Die koeie in die agtergrond is sodat toeriste hulle kan afneem. Dunedin is volgens allerlei boeke die mees Skotse stad buite Skotland. Die bagasieman en die lughawesekerheidsvrou het rooi hare en sproete gehad, so ek dink die boeke is reg.


Ek het vandag Jappanese kos ontdek (meer as net soesji). En dis lekker! Dit was aandete.


Nog een van die wonderlike geboue in die stad. Anders as oral in NS is die meeste huise en geboue hier van baksteen en klip (hulle bou anders vreeslik baie met hout en sinkplaat!).


Op in die straat van waar ek bly in Dunedin. Daar is beslis iets Skots aan die plek.

Ek het vandag in Dunedin aangekom, NS se derde grootste stad en na bewering die mees Skotse stad buite Skotland. En ek dink dis waar, ek hou van die plek! Ek weet niks van Skotland nie, behalwe Trainspotting, en ek dink Trainspotting sou maklik hier kon afspeel. Dunedin is glo in die 1840's rond gestig, deur Skotse kerkimmigrante, en die hele stad is op papier uitgele en beplan in Skotland voordat die mense nog hier aangekom het. Die strate is grou en grys (maar ja, dit reen vandag hard en hier hang 'n lae mis oor die stad, help vir atmosfeer!), die geboue is van donkerrooi baksteen, reusagtige Presbiteriaanse kerke waak oor die stad. Dis heel anders as die res van NS, nogal soos Wellington, maar voel ouer en nogals of dit 'n stad is wat al baie gesien het. Dis nie blink en nuut soos Auckland en allerhande ander plekke hier nie, dit voel soos 'n stad moet voel, ja, eintlik bietjie afgeleef, maar dis mos karakter! Op die vliegtuig het ek langs 'n 'minder slim' kind gesit (die Amerikaners sou praat van trailer park trash, maar dis nie woorde wat ek sal gebruik nie). Hy was op pad na Dunedin waar hy woon, en het my aanvanklik bekommerd gehad! Eers het hy die vliegtuig se veiligheidskaart (met inligting oor die nooduitgange et al) begin byt (regtig!) omdat daar 'n plakker bo-op die prentjie was wat wys wat jy moet doen as die vliegtuig in die see val. Hy het die plakker (met byklanke) afgebyt en afgelek en die stukke papier of op die vloer gespoeg of gekou en ingesluk. Toe raak sy susssie op sy skouer aan die slaap, totdat hy haar 'n vet klap deur die gesig gee om haar wakker te maak. Toe skuif sy sitplekke. Toe leun hy skaamteloos agteroor om die man wat agter hom sit, se FHM te lees (bo-oor die arme man se kop), seker vir die prentjies.