Tuesday, January 31, 2006

Kunsuitstalling




Hier is nog 'n paar foto's wat ek vandag geneem het in Nelson - al moet ek dit nou self se^, ek dink nie hulle is te sleg nie. Ek het genoeg oefening gekry vir 'n lang tyd, en 'n pragtige boeretan. Sal dalk later wys hoe lyk dit!

Anne Rice was hier



Hierdie is die vreeslik opwindende, maar uiters vreemde Gotiese katedraal in Nelson. Dis donker, grys en teen die byna onheilspellende mure aan die buitekant is allerhande uiters vreemde beelde. En as jy binnekom, kom daar net so 'n klein bietjie lig deur die gebrandskilderde vensters. Kyk maar self.


Koebaai Wellington


Dis die uitsig oor die Marlborough Sounds vanuit die 33-sitplek vliegtuig waarmee ek vanoggend na Nelson gevlieg het. Langs my het Jenny van Brisbane gesit, sy het elke nou en dan na my gekyk en niks gese^ nie, tot die oomblik toe ons in die lug is, toe se^ sy skielik en baie adamant: I am Jenny. Ek, ietwat uit die veld geslaan, o, haai, ek is Andre. Sy vertel my toe sy werk baie met mense se energievelde in Brisbane, en sy kan myne baie sterk aanvoel. Dit voel vir haar asof my energie geen le^plek kan kry nie en redelik deurmekaar is, maar tog baie gefokus sal wees sodra dit le^plek kry. Wat dit ookal mag beteken.

Lekker lank in Wellington gebly en nou in Nelson, in die noorde van die Suideiland. Na my vorige ondervinding op die veerboot na Great Barrier-eiland, het ek gedink ek gaan hierdie slag liefs nie weer op 'n boot klim nie (en ook maar goed, want die wind het verwoed gewaai vanoggend). Die vlug was in elk geval skouspelagtig en niks duurder as die veerboot nie. Het gister die Te Papa-museum in Wellington besoek, en later die aand by my gereelde aandeteplek die soveelste Nederlander hier ontmoet, wat soos almal wou weet of die 'probleme' in SA darem nou al opgelos is.
Die museum was baie interessant. Interaktief, noem hulle dit. Dit raas daarbinne soos in Ratanga Junction. Daar is simulasies van aardbewings, jy kan bo-op 'n ding spring om te kyk hoe sterk jy is, daar is dieregeluide, voels wat sing en kinders wat op opnames praat oor allerhande dinge, daar is oral videos wat speel en musiek. Baie lewendig. Die uitstalling Made in New Zealand was nogal weird, daar was 'n paar landskap-skilderye, 'n kantoorstoel en 'n Holden (dis soos Ford of Chevrolet, gemaak in Australie), wat iemand heeltemal oorgetrek het in sinkplaat . . .


My goeie vriend Che Guevara in die ingangsportaal van 'n Wellingtonse winkel.


En dit is Nelson, daar is oral blombakke in die middedorp met sulke mooi blommetjies in.

Monday, January 30, 2006

Vasgekeer in die Kaap

Interessante artikel wat vandag in die New Zealand Herald verskyn het. Die Kiwi's is mos vreeslik groen, jag die walvisjagters en jaag die kernskepe uit hul hawens. Hier is 'n artikel van die stigter van 'n Kiwi-bewaringsorganisasie wat Jappanese walvisskepe jaag en nou vasgekeer sit in die Kaapse hawe - hy skryf dis omdat die Japannese vriende in hoe" (Suid-Afrikaanse?) plekke het. Word hierdie storie gevolg daar? Lees dit hier.
En dan was daar nog iets wat my vandag nogal ge-interesseer het, 'n artikel in The Dominion Post oor 'n Britse regeringsgroep wat reken die dae van reis om die wereld soos jy wil, is binnekort verby. Hulle voorspel selfs dat mense sal terugval op fietse en perde! Klink absurd, maar miskien, met olie wat so duur word en al minder word, nie so vergesog nie? Wat beteken reis nou en kry klaar. Lees dit hier. Dis 'n skakel na die oorspronklike artikel in die Britse The Telegraph, want The Dominion Post het nie 'n website (wat ek kan opspoor) nie.

Toeris-toeris

Hier is nog 'n paar foto's van my sightseeing die naweek in Wellington. Partymaal raak ek so meegesleur met sommer net kyk hoe die mense leef en werk en speel dat ek vergeet om ook te gaan kyk na die sights! Dit was 'n buitengewone warm naweek in Wellington (hulle praat van 'n hittegolf - net so onder 30 grade Celsius) en Saterdag het ek 'n lang ent langs die see af gaan stap, verby luukse woonbuurte en groot huise. Dit was heerlik warm en die strande het gewemel van mense. Ek het ook die eerste keer sedert ek hier aangekom het, Afrikaans gehoor, iets wat vir my vreemd is, want hier bly tog derduisende Suid-Afrikaners, ek wonder waar kruip hulle weg.


Wellington se kabelkar (al lyk dit soos 'n trein werk dit met 'n kabel, en die kabelkar staan heel skeef op die spoor). Dit ry 'n roete van net minder as 1 km teen die berg op. Dis nie 'n toeriste-ding nie, dis deel van die stad se openbare vervoer sodat jy nie die vreeslike styl heuwel hoef uit te klim nie, maar binne enkele minute tot by jou huis of universiteit kan ry. Die kabelkar is 100 jaar gelede in gebruik geneem.


Sommer net langs die waterfront. Kuns?.


Die strande vol mense. Hier is 'n paar strande in die stad, net enkele minute van die middestad af. Die water is skoon en die mense is mooi.


En dis moontlik waar die mooi mense bly, in mooi huise met mooi uitsigte.

Saturday, January 28, 2006

Lower Hutt


Ek het gisteraand by Edward Gemmel (op die foto saam met my in sy tuin), wat ek in Auckland ontmoet het, se huis in Lower Hutt (Wellington), 'n 'non-remarkable commuter suburb' om my reisgids te quote, gaan kuier. Dis nie so non-remarkable nie, dis 'n welige, groen woonbuurt langs die Huttrivier waar heelparty tonele van Lord of the Rings verfilm is. (Dis groot besigheid die hele Lord of the Rings-ding hier. Letterlik elke dorp en stad het toere na 'locations'. Hier in Wellington kan 'n mens vir 'net' R800 'n halfdagtoer onderneem na die plekke in en om die stad wat verband hou met die film. Soos jy kan dieselfde roete gaan loop wat die sterre geloop het vir die wereld-premiere van die fliek. Maar jy kan sommer net die roete gaan loop sonder om te betaal ook). Anyway, Lower Hutt was 'n interessante inlywing in die voorstedelike lewe in NS. Later, na die aandete, het ek en Edward na die 'local' gegaan, waar sy 'mates' vir hom gewag het. En soos nou maar gebeur in working class-buurte lyk dit my, breek daar toe so rukkie later byna-byna 'n kroeggeveg uit. Dis waar ek toe nou my gasheer bedank vir sy vriendelikheid en die bus terugvat na die middestad, waar ek tuisgaan.

Die stad wat lewe

Wellington het my genoop om my mening oor Nieu-Seeland radikaal te verander. Dis 'n stil land met stil dorpe en mooi natuurskoon en baie skape en beeste - en dan 'n hoofstad wat lewe, 'n hoofstad vol boheemse mense, straatkafees om elke hoek en draai, tweedehandse boekwinkels, musiekwinkels, straatkonserte - wonderlike plek.


Dis mos nou Chinese nuwejaar en hier is vreeslik baie Chinese in Nieu-Seeland. Die jong Chinesies het (belangstellend?) gestaan en kyk hoe hul maatjies die mense op straat vermaak en gewag vir hul beurt.


Dis mos nou hoe die somer moet lyk. Op 'n bushalte.


Oor die middaguur skop jy jou skoene uit, gryp 'n Sprite, en gaan sit op die gras langs die waterfront.


Of jy gaan haal jou kajak en roei 'n bietjie in die waterfront. Jou kantoor is immers net enkele minute van die water af. Dis 'n klein plek, 200 000 mense, maar lewendig! Die Aucklanders noem Wellington Windy Welly, maar hulle is net jaloers.


Sommer net 'n interessante kleurspel oorkant my blyplek.


Een van die ou geboue in Cuba Street, die plek waar die oulike mense uithang.


Een van die vyfhonderdduisend lekker plekke waar mens in Cuba Street kan gaan sit (of staan) en kuier.

Art Deco

Hier is die beloofde foto's van Napier. Dis 'n kleinerige dorpie ('n stad in Nieu-Seeland) wat in 1930 iewers heeltemal deur 'n aardbewing platgevee is met die aarde. Toe herbou hulle die hele plek in die Art Deco styl van die dag, en toe vind die toerisme-mense uit dis 'n groot aantrekkingskrag - nou word dit bemark as die Art Deco-hoofstad van die wereld (nogal). Baie nice plek, langs die see, daar's 'n lang waterfront-loopvlak (die Marine Parade) en die hele middestad is basies vol Art Deco-geboue. Daar is ook 'n paar ou karre en elke nou en dan meer 'n passasiersboot in die hawe vas en dan wemel die dorp van toeriste. Andersins is dit stil. Ek het 'n paar dae daar gebly.



Twee van die vele Art Deco-geboue in die dorp. Oral waar jy kyk, lyk dit so. Soms reen dit ook dae lank.


Net vir ingeval jy wat besig is om oor die pad te loop gewonder het, ja, die karre beweeg wel en jy moet pasop.

Friday, January 27, 2006

Hou koers!

Ek is geslaan deur 'n effense olikheid en het nog nie daarby uitgekom om my nuwe foto's te laai nie, maar ek belowe dit sal binnekort verskyn - Napier die Art Deco-plek en Wellington die plek wat lewe. Wellington het my nuwe hoop gegee vir Nieu-Seeland, dis wonderlik hier. Geniet intussen hierdie storie en foto oor die mooie Charlize wat in Auckland is.

Wednesday, January 25, 2006

Kyk altyd vorentoe


Ek is nou in Napier, Art Deco-stad en Nieu-Seeland se Miami (volgens die toerisme-mense), ek sal hopelik more van Wellington af foto's laai, hier is heelparty interessante geboue. Laat my baie aan Springs dink. As ons Springs se middestad 'n nuwe laag verf gee, het ons ook 'n Miami.
Net om sommige van my vorige kommentaar oor hierdie stil land te regverdig: Eergister sit ek by 'n straatkafee/kroeg en 'n Duitser (Michael) van my backpackers-plek loop verby. Vra of hy maar kan sit, jy's welkom, antwoord ek. Waar is al die mense, vra hy? Hy was pas in Rotorua (waar ek ook was), en daar was ook nie mense nie en al die winkels was toe, hy verstaan dit nie, vertel hy. Rukkie later loop 'n ander ou verby, vra of hy maar kan sit. 'n Nederlander, kan nie sy naam onthou nie. Hy't nog nie eens gesit nie, toe se^ hy, dis darem 'n stil plek hierdie Nieu-Seeland. Sela.
Die Duitser het 'n vriend wat joernalis is, en baie kontak het met oud-Nazi's, Nazi-jagters en ander interessante mense. Hy vertel my hy het al vir Leni Riefenstahl (Hitler se filmmaker), Simon Wiesentahl, en ook die oud-kommunis Egon Krenz ontmoet, want hy gaan gewoonlik saam as sy vriend (met die naam Frank Brandenburg), sy onderhoude voer. Riefenstahl se kommentaar aan hom wat Michael is, toe sy haar 100ste verjaardag gevier het en so jonk soos 'n 70-jarige gelyk het (sy woorde): Jy moet altyd vorentoe kyk, jy moet altyd aan jou volgende plan dink, dan bly jy jonk.
Brandenburg het 'n boek ook geskryf, The Quest.

Die moeite werd

Ek het mos nou baie tyd om te lees, en het pas twee boeke klaargemaak - Ursula le Guin se Changing Planes (waarna ek ook hieronder verwys) en Pearl S. Buck se The Good Earth. Laasgenoemde het my verstom, ek het aanvanklik gedog dis 'n girlie-boek, maar dis werklik goed, ek het dit letterlik binne drie dae verslind. Wanneer iemand 'n storie kan vertel sonder groot, kwasi-intellektuele woorde is dit darem wonderlik. En 'n storie wat jou laat dink en laat voel en laat saamleef, al is dit 'n wereld so ver van wat jy ken.

Sunday, January 22, 2006

Oor Nieu-Seeland


Hier volg 'n paar quotes van bekendes oor Nieu-Seeland, dit was vandag in die koerant by 'n artikelreeks oor waarom mense kies om in Nieu-Seeland te bly.
'I believe we were all glad to leave New Zealand. It is not a pleasant place. Amongst the natives there is absent that charming simplicity . . and the greater part of the English are the very refuse of society' - Charles Darwin, 1860.
'Altogether too many sheep' - George Bernard Shaw, 1934.
'When I was there it seemed to be shut' - Sir Clement Freud (kleinseun van Sigmund), 1979.
'There's a real purity in New Zealand that doesn't exist in the States. It's actually not an easy thing to find in our world anymore. - Elijah Wood, 2003.
(Ek dink hy som dit baie goed op, en dis min of meer my opinie. Lees ook my post hieronder.)

Kiwiland se mense


Dit is Daphne Bush. Sy woon in Auckland en het my een aand geselskap gehou in 'n kuierplek met die naam Family, in Karangahapeweg, die 'naglewe-hoofstad' van Auckland. Dit is 'n straat waar jy letterlik iets van alles kry.


Donald (ek weet nie wat sy van is nie) en 'n onbekende aanstaande bruid in Rotorua. Donald is verloof aan 'n Suid-Afrikaner en hy trou in Maart op Hermanus met haar. Hy het Afrikaans met my geoefen. Hy is half-Maori en half-Pakeha (Europees), en is die afrigter van 'n Maori-rugbyspan wat gister hier op Rotorua aan 'n toernooi deelgeneem het. Ek en Donald het mekaar in die 'rookkamer' leer ken (buite op die stoep, jy mag glad nerens in NS rook nie, wat beteken dat ek sekerlik hier die gewoonte heeltemal sal kan afleer). Die hele rugbyspan het ons later gejoin en Donald het net bier gekoop, vir my en vir sy span. Was sekerlik 'n groot 'Nieu-Seelandse ondervinding' - ek het lekker saam met die tawwe Maori-rugbymanne gesit en kuier totdat die kroeg stiptelik om middernag sy deure gesluit het. Die aanstaande bruid het laataand verbygekom op soek na kondome. Sy moes haar sluier vol kondome hang.

Ek begin al meer gewoond raak aan die stil, rustige lewe hier. Ek kan dit nie help nie, maar Nieu-Seeland is eintlik ietwat saai. Dis omdat hier so min mense woon, dink ek. En die meeste jong mense gee so gou hulle kan pad na Engeland of ander plekke. Dis ongetwyfeld 'n PRAGTIGE land, die mense is regtig baie nice (op die oppervlak), maar dit voel net te veel soos 'n oudmodiese Suid-Afrika (van se^ maar die jare tagtig). Kyk nou maar vandag, en gister, hier op Rotorua is byna al die winkels toe, hulle maak so van tienuur tot eenuur oop, party van hulle, en dan TOE. Dan is die strate verlate, net hier en daar is tourist traps waar jy jou geld kan gaan blaas wat nog oop is. Ek geniet nou die plek bloot vir die rustigheid en die wonderskone natuur. Ek dink Nieu-Seeland is pragtig, maar ek sien uit na my meer avontuurlustige reisie in Asie. (Ja, hier is allerhande avontuur-sportsoorte wat 'n mens hier kan doen, wat baie van die reisigers doen, maar dis meestal dinge wat ek in elk geval veel goedkoper in SA kan doen. Die soort dinge is vreeslik duur hier. Ek gaan wel op die gletsers loop en uit 'n vliegtuig spring.)

'n Ander planeet

Ek het uitgevind daar is 'n manier om na ander planete te reis sonder dat jy enigiets hoef te doen. Dit gebeur sommer net as jy dalk verveeld is of bietjie slegte spysvertering het. OK, dis nie my idee nie, ek steel die konsep by Ursula le Guin, maar dit lyk my sy praat die waarheid, want toe ek vandag my oe" uitvee, toe is ek op 'n ander planeet. Hieronder is die foto's om dit te bewys. Dit is 'n plek wat vreeslik sleg ruik (swael/koolsuurgas), dis vreeslik warm (so dit moet seker nader aan die Son wees as die Aarde), en daar is die vreemdste kleure en mineraalneerslae wat ons glad nie ken nie. Die planeet se naam is Wai-O-Tapu.


Dit is van die kleure van die grond in Rotorua se 'Termiese Wonderwereld' - die toerismemense se benaming. Wai-O-Tapu is 'n park in die reusekrater van 'n vulkaan, net buite Rotorua. Daar is vuurwarm magma net so 'n entjie onder die grond na vele vulkaniese uitbarstings die laaste jare, met die gevolg dat daar oral vreemde minerale na die oppervlak styg en die water kook letterlik. Die minerale veroorsaak al die kleure.


Klippe langs die rivier, hier is die water sommer groen. Oral borrel modderpoele van die hitte, kyk na die twee klein poeletjies voor in die foto.


Net 'n bewys dat ek op 'n ander planeet was. Waar kry jy op die Aarde 'n reuse-poel met water wat hierdie kleur is?


'n Uitsig oor die park. Ongelukkig wys my foto nie die kragstasie ('n Nieu-Seelandse toeriste-attraksie) in die verte nie.


Oral waar jy loop lewe die Aarde om jou. Daar is baie plekke waar die stoom soos hier uit die water styg, of soms sommer net uit 'n gat in 'n rots. Die plek sal snags 'n wonderlike spookhuis wees.


Dan is daar plekke waar die modder aanhoudend borrel, omdat dit so warm is. Die temperature wissel tussen 80 grade en 200 grade (Celsius). Volgens die gids. Maar 200 klink vir my bietjie baie. Anyway, dit borrel en suis.


En dan 'n laaste blik oor die 'Sjampanjepoel' - die kern van die park. Ek dink dat Nasa ook van sy foto's om te bewys dat hy in die ruimte was, hier geneem het, afgesien nou van die foto's wat hy buite Sutherland geneem het om te bewys hy was op die maan.

Gesien langs die pad


In 'n winkelvenster in Auckland. 'Party pills' is groot besigheid hier - seker omdat dit die arme Kiwi's hier aan die einde van die wereld 'n bietjie vertroos. Hierdie poster het veral my oog gevang, ek het eers gedog dis een of ander kerk of sekte wat adverteer. Miskien gebeur daar iets spiritueel met jou as jy die pil neem. Hulle skryf op die poster die pil is veral handig as jy aan Ecstasy verslaaf is.


Geen kommentaar hieroor. Net weer eens 'n teken dat ook Middle Earth te doen kry met die probleme van die wereld daar buite. Dis nogal in Rotorua - nie veel groter as Welkom nie.


Hier kan ons 'n les leer. Dis 'n uitkykpunt vir 'n kragstasie, kompleet met toeriste-inligting oor die kragstasie, geskenkwinkel en restaurant (met glasvensters wat uitkyk op die kragstasie). Ek gaan vir my 'n stukkie grond langs Koeberg koop en dieselfde konsep daar ontwikkel.


En dit is hoe die kragstasie lyk. Jy kan lekker op die groen gras gaan sit en kyk daarna.

Friday, January 20, 2006

Terug in die grootstad

Ek het gister van Great Barrier-eiland teruggekom na Auckland. Dit was 'n stormagtige, grys dag en die bootrit van vier uur het vir talle passasiers in 'n nagmerrie ontaard. Mense het in sulke rye op die dek gestaan en oor die relings opgegooi soos die boot op en af en heen en weer oor die golwe geskud het. Ek het sommer heel aan die begin van die vaart my oggendete aan die visse geskenk, toe's ek fine vir die hele res van die reis. Maar glo my, dit was rof.
Die eiland was bloot 'n interessante ondervinding omdat dit so mooi was, maar ek het dit later te alleen gevind. Ek's skaars terug in Auckland of ek het al weer begin om so langs die pad geselskap op te tel. Ek vertrek more na Rotorua, wat NS se vulkaniese hoofstad is - daar is geysers met vuurwarm water wat glo die lug inspuit en ander lekker dinge.
So 'n paar interessante nuusberigte wat in die New Zealand Herald verskyn het terwyl ek op die eiland was (dus alles binne vier dae):
'n Vrou van een of ander klein kusdorpie is uit haar huis uit ontvoer, die bosse ingevat en wreed verkrag. Lees dit hier.
'n Man is helder oordag in Rotorua op straat doodgeskiet na 'n rusie.
'n Maori-kunstenaar is in die hof gevonnis tot gemeenskapsdiens nadat hy 'n Nederlandse toeris met sy kop gestamp het omdat hy gedink het die Nederlander lag vir hom. Die Nederlander se neus is gebreek. Lees alles hier.
Nou ja, daar is seker oral probleme.

Eilandstemme


Die hawe in Port Fitzroy, een van die dorpies op Great Barrier-eiland. Ek het daar sowat 45 minute gewag vir 'n veg-burger. Dis 'n mooi pad soontoe, grondpad (hulle noem dit metalled road - ek verstaan dit glad nie).


Selfs in die paradys is daar kinders wat uit blote verveling nie meer weet wat om met hulself te doen nie.


Die naglewe op Great Barrier. Die dorpie Claris waar ek gebly het, het geen kroeg nie en net een restaurant wat werklik belaglik duur was. Dus - boeklees in die kamer met lekker musiek was waarmee ek myself gespoil het. Ook net tot so halftwaalf, toe die eiland se kragopwekkers afgeskakel is en die ligte afgegaan het. Dit het nie die muskiete gekeer nie. Ek het sulke vulkaniese uitbarstings oral op my lyf soos die muskiete my getakel het.

Eilandbeelde


Die toonbeeld van landelikheid. Dit is 'n tipiese toneel in Nieu-Seeland, kyk mooi, op die agtergrond is koeie. Ek het nog min skape gesien. Hierdie is op Great Barrier-eiland - die stil plek.


'n Uitsig van langs die pad oor een van die vele skouspelagtige baaie op die eiland. Om elke hoek word jy begroet met so 'n uitsig. Ek het 'n paar staproetes geloop en dis nogal bergagtig, goeie klim en goeie oefening, geen geselskap, nie eens ander stappers nie.


Die Mazda 121 wat ek gehuur het om op die eiland rond te ry. Daar is 'n busdiens met die leuse: We get you there, eventually, en dis heeltemal waar. Ek was na dag een nie meer lus om die hele dag vir 'n bus te wag nie, en het toe maar die kar gehuur. Was eintlik nogal lekker en darem nie te duur nie (anders as elke ander ding in NS wat baie geld kos). Ek kon die eiland toe deeglik verken.

Tuesday, January 17, 2006

Die einde van die wereld

As mens hierdie artikel in vandag se New Zealand Herald moet glo, het ons as mense nie meer veel tyd oor op die Aarde nie. En ons sal almal in Antarktika moet gaan woon. Tog interessant en dis 'n baie ernstige koerant. Daar was ook 'n ander artikel vandag oor Nieu-Seeland se planne hoe om die komende (let wel - nie die moontlike) wereld-voelgriep-pandemie te hanteer. Wat sal gedoen word as al die grense gesluit word, waar sal mense kos kry, hoe sal die ekonomie aan die gang bly ens. Hoop nie dit gebeur terwyl ek nog hier is nie, dan sal ek 'n Kiwi moet word.

Kyk gerus

I stand corrected. Daar was toe al die tyd 'n USB-port aan die rekenaar waarop ek werk (kyk na die volgende post vir meer), so hier is 'n paar foto's van Nieu-Seeland.


Die Sky Tower in Auckland, dis die hoogste gebou in die Suidelike Halfrond. Jy kan daar af-bungee as jy sou wou. Ek wil nie. Hierdie foto is met sononder, so nege-uur die aand, die son sak laat.


Auckland se wolkekrabbers van die veerboot na die eiland. Dit neem so vier uur om van Auckland na Great Barrier te vaar, min of meer so lank soos van die Kaap na Sutherland, maar Great Barrier is selfs meer afgelee en het veel minder mense.


Die baai van Mulberry Grove op Great Barrier-eiland, een van die 'dorpies' op die eiland. Ja, baie Engels en baie quaint. Oral net picket fences en koeitjies wat wei en kinders wat met fietse in die strate rondry.


Die warmbron-poel waar ek gaan swem het. Die water is kokend warm, as jy so staan en kyk trek daar stoom op. En ek weet nie hoekom dit so groen is nie.